20 dae gelede
’n Prettige Erfenisdag vir julle
André Smith  ~ Foto Verskaf

EK WEET nie van jou nie, maar ek het deesdae ’n diep lus na en mis daai harts- en kultuurgoed wat ons eens sonder skroom of skaamte kon aanpak.

Erfenisdag is juis weer op ons, maar dis net asof daai uitsien na die braai of ander lekker “doengoed” op die dag net nie meer so spontaan kom as voorheen nie, want die “check-lysie” moet alewig by wees.

Hoeveel mense gaan daar wees? Is my masker ingepak? Is die handskoonmaakgoedjies by?

En die nuutste een: Ek wonder hoeveel van die mense wat daar gaan wees, het al die jab gekry?

Gaan die kuiertjie in ’n oop of toe ruimte plaasvind?

Onthou tog om nie hand te skud of drukkies uit te deel nie. Al is dit ook jou ma of jou pa.

Sjoe, ’n mens raak skoons moeg om net daaraan te dink!

Skuur

Ai, waar is die dae toe ons as kinders ál die lekker kultuurspeletjies na hartelus kon speel? Kennetjie, wegkruipertjie, drie-blikkies, skalandoe, Wolf, Wolf, hoe laat is dit? Noem maar op.

Ek wonder of ons kinders deesdae nog dié speletjies ken en geniet.

En so in die grootwordjare was daar die lekker sokkiedans in die skuur in my studentejare.

Ja, ek het sommer vir die lekkerte daarvan ’n paar tips gevang by my studentemaats, en siedaar! Ek sokkie-sokkie vir jou ’n hond uit ’n bos uit! Tog te lekker!

En die heel lekkerste deel vir my was om dan sommer nét so my eie Khoi-San-twist daarby te voeg.

Gepraat van Khoi-San, dit laat my terugverlang na daai heerlike someraande by die Amfiteater in die Paarl waar ons rieldansers uit Matjiesfontein, Wupperthal se geweste, Betjiesfontein, Rietpoort en ander juweeldorpies hul staal kom wys het. Wat ’n fees was dít nie!

Kyk, die stof het sommer letterlik en figuurlik gestaan.

En dan daai ope uitnodiging aan die gehoor om ook jou akkeltjies op die stofbaan te kom wys.

Ek het een jaar die moed bymekaargeskraap en my rielvernuf op skou gesit.

Ek moet eerlik bely, dit was die naaste wat ek aan ’n asma-aanval gekom het, maar boeta, was dit vir jou lekker!

Vleisie

Die tuisgemaakte roosterkoek, gemmerbier, vaal-afvalpot en snoek oppie kole het natuurlik opgemaak vir ál wat ’n tekortkoming is wat jy dalk by so ’n feestelike gedoente kon ervaar.

Ek weet nie van julle nie, maar ek gaan beslis hierdie Erfenisdag daai vleisie oor die kole gooi met ’n pel of drie, daai roosterbrood laat hoog rys en hom ná die tyd dik smeer met egte botter en moskonfyt.

Ek gaan seker maak daar is ’n paar lekker rieldans-nommertjies, want wraggies, só kan mens beslis nie lus wees vir ’n bietjie stoftrap nie!

En as die paar klôgoed by is, leer hulle so ’n bietjie die fynere kunsies van kennetjie, wegkruipertjie, drie-blikkies, skalandoe en Wolf, Wolf, hoe laat is dit?

En speel dié keer saam, want... dis lekker!

’n Prettige Erfenisdag vir julle en jul geliefdes!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters