17 dae gelede
Menseregte – wat vier ons?
 ~ 

OM ’N persoon se menseregte te deny is om sy human­ dignity te deny.

Só het Madiba destyds al gewaarsku. So asof hy in die toekoms kon sien.

Want sien, hoewel ons in Mzansi baie het om te vier ten opsigte van Menseregtedag, is daar min om te vier ten opsigte van menseregte.

Voor 1994 het die herdenking van Sharpeville-dag, soos dit destyds bekendgestaan het, ’n dieper politieke strekking gehad. Min politieke regte. Dompasse. Mense wat soos diere geskiet word.

Vandag, dekades later, word Menseregtedag gevier met die klem meer op menseregte as politieke regte.

Daar is ’n nuwe struggle ten opsigte van basiese menseregte.

Kom ons neem as vertrekpunt die basiese mensereg op skoon, lopende drink­water. Wie onthou nog vir Andries Tatane? Die pa wat maar net betoog het vir ’n bietjie drinkwater vir sy gemeenskap en toe met sy lewe daarvoor geboet het? Ek vra maar – wie onthou nog?

Kom ons vat dan maar ’n more recent voorval. Wie onthou daai teacher wat met sy lewe geboet het toe daar ’n slaggat in die pad was en hy nie betyds kon uitswenk nie? Wat van die basiese reg op rybare padoppervlakke?

Wie kan die lang rye by klinieke vergeet?

Dit gebeur nog daagliks wanneer mense vir primêre gesondheidsorg in rye langer as in die 1994-verkiesing moet staan.

Mammies, oumas en oupas wat moet omdraai omdat hulle nie gehelp kan word nie. Is dit dan nie basiese menseregte nie?

Believe it or not – put­toilette en toilette in bosse in veral plakkerskampe bestaan nog. Is dit ’n basiese reg om nie om middernag as die natuur roep, bossies toe te hoef gaan nie? Hoeveel vroue is al verkrag net omdat hulle die reg op ’n veilige toilet ontsê word?

Dit bring my by plaaslike regerings. Die regering naaste aan die mense. Die level van government wat moet toesien dat nasionale regeringsbesluite die lewensomstandighede van sy mense verander. Hoe bitter min plaaslike regerings voorsien werklik in die basiese menseregte van sy inwoners?

Want waarom betoog mense steeds in 2021 oor water? Oor gate in paaie? Oor duur krag? Oor dienste wat nie gelewer word nie?

Plaaslike regeringsverkiesings is op ons. Die kandidaat-lyste word reeds bespreek. Gaan ons weer die mislukte rade ’n kans gee?

Of gaan ons die rade ’n bietjie was en sif sonder om die lepels met die skottelgoedwater weg te gooi?

Gaan ons weer vir iemand ’n joppie gee sodat hy ’n ander kar kan koop of sy huis kan renovate?

Gaan ons eerder toegewyde gemeenskapsleiers instem wat werklik ’n verskil wil maak en basiese menseregte na die mense wil bring?

Moeilike keuses wag. Waak daarteen dat net die raadslid of gemeenskapslid wat die hardste raas,sy sitvlak warm gaan sit en ál die pad bank toe lag.

Nugtere denke is nodig.

Dis die plaaslike regerings wat die nasionale regering laat sleg lyk. Ons het weer ’n kans om seker te maak basiese menseregte word weer ’n basiese reg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters