19 dae gelede
Maskerloses tart oom Koewied
 ~ 

IN EMALAHLENI het Refilwe Mtsweni-Tsipane, premier van Mpumalanga, onlangs “ontmasker” en so duidelik sigbaar soos die dorp se asemdief by die begrafnisdiens vir Jackson Mthembu opgedaag.

Aanwesiges het hulle vergaap terwyl high-ranking cops met oogklappe na die socialite gestaar het.

Maar in Worcester het cops hul moer gestrip oor maskerloses en dié het toe woes met sambok en vuiste onder hulle ingeklim.

Wacko Jacko het mos gesing: “You wanna be tough, better do what you can. So beat it, but you wanna be bad.”

Bra Lokkie van Ekurhuleni het ge-whatsapp en gevra of uMama Refilwe TikTok gebruik, want hy dink dis ’n nuwe drug.

“Haar middelnaam is seker Immunity en daarom kon sy begrafnisgangers die middelvinger wys en vir antie Rona tong uitsteek,” antwoord ek.

Maar hy hou vol dat antie Refilwe twee breinselle tekort skiet en twee zolle alleen gerook het.

’n Begrafnis op ’n Maandagoggend is al so algemeen soos ’n k-woord: koors­pistool, koeshoes, kwarantyn en korona-kameraad.

Wacko Jacko preek verder innie song “Beat It”: “You’re playing with your life, this ain’t no truth or dare …”

Maar steeds paradeer en marsjeer idiote soos bliksoldaatjies van ’n army van sotte maskerloos op die rand van die dood!

Ek voel om ’n maskerlose javel ’n snotklap te gee dat hy sy ouma vir ’n eendvoël aansien, maar ek is ’n pasifis en respekteer social distancing. Om iemand te sambok, bliksem of donner, verander nie die weerpatroon of dwase optrede nie, want ’n dwaas is ’n dwaas, al noem jy hom op sy doopnaam.

’n Dwaas is beslis ’n kandidaat om ’n job in oom Koos se kombuis te score. Wanneer hulle stoksielalleen aan ’n hospitaalbed gekluister is en spartel om asem te haal, vlug kamerade tot binne-in hul isolasiespasie.

Die Muscles van Brussels is nie sterk genoeg teen Covid-19 om suurstof na die longe te pomp nie. Dra ten minste ’n masker op die regte manier en sanitise dán jou hande in onskuld.

Die dood grynslag vir Pond’s-besmeerde gesiggies sonder masker.

Oom Koewied is nie judgerag nie! ’n Masker innie hand of oppie ken mesmeraais nie die corona-virus nie!

Ons is inperkbeserk soos Koronamouna, maar springlewendig en daarom moet elkeen soos ’n gepantserde ridder teen dié pestelike aanslag baklei.

Verander asseblief in ’n mas­kermens, veral wanneer jy die kwarantrein ry.

Arm rokers in Sonland is immers die horries gespaar, want hulle share ’n zol, maar verstik nie aan “rykmans- rookgoed” nie.

Meanwhile het CR17 ’n own goal gescore deur sy stop-alles-gedagte en só het hy ’n rommeltjommel-ekonomie finaal nekom gedraai.

Die kwarantynwynbedryf blom terwyl die harlekyne huil. Maar soos ’n wyse toppie gesê het: “ ’n Mens straf nie ’n dowe persoon deur vir hom ’n radio te koop nie.

“En vir ’n blinde koop jy nooit ’n spieël as geskenk nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters