Verlede jaar
Leë beloftes sny volk diep

‘DIE regering voel niks vir arm mense nie.”Só sak ’n ouerige vrou Dinsdagoggend in die taxi af. Aan haar stemtoon kom ek agter sy is erg omgekrap.

“As die armes almal op ’n hoop kan vrek, sal die regering baie bly wees, want dan is daar een ding minder om oor te worry. Kyk net hoe sit almal styf teen mekaar hier en daar is nie eens ’n venster oop nie.

“Die president het mos gesê 100%. En dit in die tyd van Covid-19.”

’n Man langs haar maak keel skoon en sluit hom ook by die gesprek aan.

“Daai kan jy weer sê, my suster. Ons arm mense is net goed genoeg wanneer dit by verkiesings kom, want dan sien jy sommer ministers wat T-shirts kom uitdeel.

Keelvol

“Andersins is ons niks in politieke figure se oë nie.

“Baie van ons mense wag nou nog vir kospakkies en oor die beloofde R350 gaan ek liewer stilbly.”

Ek besef weer net hoe keelvol en ontevrede ons mense is. Seergemaak. Teleurgesteld. Hulle het niks goeds oor die regering te sê nie.

Dis seker te verstane. Te veel beloftes van ’n beter lewe vir almal is gemaak, maar nooit nagekom nie.

Die armes word by die dag armer.

Ek het geleer as ’n mens ongelukkig is oor iets, moet jy daaroor praat.

Dit gaan niks baat om van jou hart ’n moordkuil te maak nie, al val jou woorde ook op dowe ore.

Jy hoef net na Eskom te kyk om te sien hoe swak die dienslewering in ons land werklik is.

Maar sodra dit kom by die ver­hoging van tariewe, word dit vinnig goedgekeur. Hoe regverdig jy dit?

As voorbeeld van die kragvoorsiener se “uitstekende” diens verwys ek net vlugtig na verlede Sondag, toe ons krag, in plaas van die verwagte twee en ’n half uur, sommer vir langer as sewe ure af was.

Dit het aangeslaan net voordat oom Cyril die land toegespreek het oor aanpassings aan vlak 3 van die inperking. Snaaks genoeg het hy nie ’n woord gerep oor enige vlakke van beurtkrag nie.

Maandag was dit presies dieselfde. Die krag het 14:00 afgeslaan en eers voor 23:00 was daar weer lig.

Ek het honger gaan slaap, want vir koue kos was ek nie lus nie. Die vloekwoorde wat ek geuiter het, sal ek liewer nie herhaal nie. Dit het in elk geval niks aan die situasie verander nie.

Terug by die gesels in die taxi.

“Ek is net so teleurgesteld in die Stad Kaapstad,” voeg nog ’n vrou by.

“Ek hoop daai wetstoepassers wat ’n man kaal uit sy hokkie gedwing en in die openbaar verneder het, word nooit weer toegelaat om die wet toe te pas nie. Ons het genoeg gangsters wat die lewe vir wetsgehoorsame mense moeilik maak op die Kaapse Vlakte.

Feit

“Mens verwag nie sulke gedrag van persone wat wet en orde moet handhaaf nie.”

Dis ’n feit soos corona: Suid-Afrika makeer ’n nuwe regering. Leiers wat almal se belange op die hart sal dra en nie net aan hulself dink nie.

#PoorLivesMatter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters