6 maande gelede
Korrupsie kan ook NMS kelder
Jason Lloyd  ~ Foto Verskaf

GELDSUG en magsmisbruik bedreig ook die toekoms van die Nelson Mandela-stigting (NMS).

Nuusberigte oor staatskaping, korrupsie en onbevoegdheid (staat en privaat) deur sogenaamde vryheidsvegters wat aanvoer hulle tree in die belang van die armes op, behoort ons geensins te verbaas nie. Dit is ’n algemene verskynsel – nes diktatorskap, korrupsie en magsvergrype in Afrika.

Die nuus dat die NMS nie immuun is teen die Suid-Afrikaanse pandemie van korrupsie, staatskaping, magsmisbruik, onbevoegdheid, kaderontplooiing en algemene geldgierigheid nie, het menige onkant betrap.

Die verrotting is glo so erg, die NMS-raad van trustees het besluit die trustees oudpres. Kgalema Motlanthe, Alice Brown en Maya Makanjee moet die dag-tot-dag-bestuur oorneem.

Dít het glo gekom nadat Sello Hatang, uitvoerende hoof, en Limpho Monyamane, operasionele hoof, op spesiale verlof geplaas is.

Prof. Jakes Gerwel het die NMS in 1999 begin nadat Madiba as president uitgetree het. Van Mei 1994 tot Junie 1999 het hy ge­dien as direkteur-generaal van Mandela se kantoor en kabinet­sekretaris.

Hy was ook sy hooftoespraakskrywer, ’n invloedryke vriend, raadgewer en vertroueling.

Die NMS is ’n organisasie sonder winsbejag. Dit was van 1999 tot en met Madiba se dood in 2013 sy post-presidensiële kantoor.

Dié stigting se mandaat is die uitwissing van armoede, verligting van ongelykheid en die beskerming van Madiba se nalatenskap.

Die NMS kry geld uit toelae, donasies, lisensie-ooreenkomste en tan­tième vir die gebruik van Madiba se naam en gewildheid.

Sunday Times berig “agter die skerms was daar groot onrus in die stigting toe werknemers begin vrees het hulle raak die pad byster en werklike werk om armoede en ongelykheid te verlig, kry ’n agtersitplek teenoor skakel- en handelsbetrekkinge. Dit was besig om die NMS se koffers te dreineer, eerder as om dit aan te vul.

“Die onenigheid het uitgeloop op die besluit van die stigting se raad van trustees verlede maand om Hatang en Monyamane op spesiale verlof te plaas.

“Dit het gevolg op ’n fluitjieblaser-verslag waarin aantygings jeens Hatang en Monyamane gemaak is.

“Dit sluit in (beweerde) aktiwiteite waaroor Mandela sou gefrons het, naamlik afknouery, intimidasie, begunstiging, onreëlmatige verkrygings en die misbruik van korporatiewe bankkaarte.”

Sunday Times berig verder: “Die stigting se finansiële jaarstate wat in die openbaar beskikbaar is, toon die uitgawes vir funksies en ontwikkelingsprogramme het in 2018 meer as verviervoudig tot R32,6 miljoen, teenoor R7,2 miljoen die vorige jaar.

“Die meeste geld is aan funksies, konsultante en agentskappe bestee. Minder as R5 miljoen het gegaan aan werklike programme wat mense se lewe raak.”

Gerwel (1946-2012) en Mandela (1918-2013) draai seker in hul grafte omdat hul geliefde NMS in konflik gewikkel is oor prioriteite, besteding en geldgierigheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters