3 maande gelede
Kom ons salueer ons pappas
SAAM: Kinders het ’n goeie pa in hul lewe nodig.Skildery: Charles Smal  ~ 

EK WIL graag ’n lansie breek vir pa’s wat werklik omgee en teenwoordig is in hul kinders se lewe.

In baie gevalle is dit ook nie eens net betrokkenheid by hul eie kinders nie, maar selfs by vreemdes en kinders wat as gevolg van allerhande omstandighede op hul pad kom en en vir wie hierdie mans dan by verstek ’n vaderfiguur word.

Ek ken ’n hele paar sulke mans. En hoewel daar in die algemeen baie klem gelê word op afwesige pa’s omdat die statistieke wys dat 60% van ons kinders sonder hul biologiese pa grootword, is dit ’n feit dat daar ook baie pappas is wat nie seep, brood of melk gaan koop en weggebly het nie.

Terwyl ek die laaste jare besig was met ’n selfopgelegde skryfopdrag, het ek met honderde kinders gesels oor hul verhouding met hul pa.

Sommige se stories het my baie nagte laat wakker lê en soms het ek my aan die slaap gehuil.

Ek kon nie glo wat kinders vertel wat hul pa hulle oor baie jare aangedoen het nie.

Sommige sê as hul pa net vergifnis wil vra, sal hulle hom vergewe. Dit was hartverskeurend.

Dan het ek ook laas week die hart van ’n 20-jarige meisie gehoor wat vir my sê: “Antie Petro, ek wens net my ma kan eerlik met my wees en sê wie my pa is.”

Dís die werklikheid. Kinders van alle ouderdomme loop met seer rond en dis grootmense wat daarvoor verantwoordelik is.

Aan die ander kant was daar ook dié wat net die mooiste herinneringe koester en diegene wat vandag self al ouers en grootouers is en vertel hoe hul pa vir hulle as kinders stories vertel het, met hulle gespeel en vir hulle gesorg het.

Ek het geleer, benewens die pynlike stories, is daar talle goeie stories van merkwaardige pa’s wat hul plek vol gestaan het – en steeds doen – vir hul eie kinders én vir ander. Dis vir dié vaders dat ek vandag wil sê dankie! Ons salueer julle!

Kortstondig

Aan die kinders, oud en jonk, wat hier lees: Dalk is daar iemand wat nie jou eie pa is nie, maar wat daai rol ingeneem het toe jou pa nie daar was nie.

Moenie dat dit te laat wees om terug te gaan om dankie te sê nie. Ons sien ál hoe meer hoe kort die lewe is. Vandag is ons hier, môre dalk nie meer nie.

Gaan na daai persoon toe, bel, of stuur ’n boodskap op Vadersdag dié Sondag.

Onthou dat dit nie net oor geskenke gaan nie. Om gehaltetyd saam met iemand deur te bring het soveel meer waarde as geskenke. Maak tyd om te gesels.

Daarby is die woordjie “dankie” ’n kosbare woord wat jy vir iemand kan sê sonder om geld uit te gee.

Aan elke pa wat voel dat hy nie waardeer word nie: Berus jou daarby dat jy alles na die beste van jou vermoë gedoen het wat jy kon.

’n Geseënde Vadersdag aan alle pappas!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters