Verlede maand
Is dit ’n skool of martelkamp?
 ~ 

DAT die meeste skole deesdae martelkampe geword het vir opvoeders en leerders, is ’n feit soos die oorweldigende Covid-pandemie.

Die pandemie het regtig die ongelykheid tussen opvoedkundige instellings en die tekorte soos ruwe rotse by Harmony Park ontbloot.

Dis veral ons landelike skole wat steeds op watertenke moet staatmaak vir drinkwater en sanitasie. En waar handreinigers so skaars is soos ’n kitsteenmiddel vir Covid! Dit is so onregverdig dat die onderwysdepartement nie ’n vinger verroer om opvoeders in landelike gebiede die bystand te bied wat hulle verdien nie...

My alma mater het my gevra om uit te help met Afrikaans. Voor die Covid-19-situasie het die onderwys maar ’n wrang smaak in die meeste opvoeders se mond gelaat wat betref die kurrikulum (wat in elk geval ’n klug is), die strafmaatreëls en die yslike ongelyke speelveld wat steeds hier heers.

Dis maar die oortjies van die seekoei! Ek het nooit besef watter stryd opvoeders deesdae beleef om leerders tot die beste van hul ver­moëns te onderrig nie.

Behalwe dat hulle deesdae met maskers moet onderrig, sien hulle slegs die helfte van hul leerders se gesigte.

Sekere grade kom ál om die tweede dag skool toe.

Elke klas word in twee groepe verdeel. Elke opvoeder het ongeveer vyf of ses klasse wat verdeel word en elke nuwe les moet twee keer verduidelik word.

Dis ’n stryd om te onthou wat, waar en wanneer. Leerders ruil nie meer klasse nie.

Die opvoeders moet tot by elke klas beweeg, bewapen met hand sanitiser en die groen spuiter wat gebruik word om oppervlakke te ontsmet.

Werk moet oor en oor op borde geskryf word en daar is nie regtig plek en tyd vir ’n oudio- of ’n PowerPoint-aanbieding nie. Vir my was dit ’n aanpassing en my tong het behoorlik uitgehang ná die eerste paar dae.

Tóg moet jy ook nog energie probeer oorhou om met entoesiasme te verduidelik.

Opvoeders moet ook soms ’n paar treë terugstaan en waag om hul masker ietwat speling te gee sodat die feit korrek oorgedra kan word.

Tydens mondeling gaan dit ook rof, want die leerder moet ongeveer 2 m van die opvoeder af sit en mompelend sy storie oordra.

Leerders moet ook hul ore spits om duidelik te hoor wat opvoeders deur hul maskers kwytraak. Opvoeders se stemme is hees omdat hulle ’n toon hoër moet praat om gehoor te word…

Opvoeders moet geskrewe take nasien wat ook moontlik besmet kan word en leerkragte dus vatbaar maak vir die virus. Tog ontgaan dit die opvoeders soms om veilig te speel en ná elke paar antwoordskrifte hul hande te was en selfs tydens nasienwerk hul maskers te dra.

Ouers moet twee keer dink as hulle beweer opvoeders werk nie hard nie of verdien hul salaris te maklik. Kom sien self in watter moeilike omstandighede onderwysers werk.

Dankie vir opvoeders wat ten spyte van geestelike en selfs fisieke lyding steeds die passie en onvoorwaardelike liefde vir onderrig behou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters