28 dae gelede
‘Hoop te midde van Covid-19’
 ~ 

EK HET die gedig “Hoop te midde van Covid-19” geskryf nadat ek by ’n paar vriendinne wou hoor hoe dit met hul welstand gaan.

Dié vriendinne is twee formidabele vroue wat gereeld vir ander in die bresse tree, sterk moet wees en raad gee.

Albei het geantwoord dit voel by tye vir hulle asof hulle eenvoudig net nie meer kan nie.

Die sterfte van familielede, vriende en kollegas begin vat aan ’n mens, veral as jy nie eens die laaste tot siens kon sê nie.

Dalk voel jy wat dié gedig lees, ook by tye so.

Moenie moed opgee nie. Onthou, die virus sal nie vir altyd met ons wees nie.

Geen storm hou vir ewig aan nie.

En onthou, jy hóéf nie sterk te wees nie.

Gebreek

My hartsgebed is dat wanneer dit voel of alles vir jou te veel en te klein raak, jy iemand sal hê by wie jy swak kan wees. Bowenal onthou: Daar is altyd hoop.

STIL, so het jy gekom

Gebreek, ongenooid

So het jy ongenooid gekom en gebreek wat vir ons kosbaar is.

Jy gee nie ’n flenter om vir ras, ouderdom of geslag.

Jy laat ons skuil agter maskers waar ons sukkel om asem te haal;

En soms nie eens meer kan sien deur die vensters van die siel,

Want die pyn is diep en raak net meer,

En by tye kan ons eenvoudig die trane net nie keer.

Selfs ’n handdruk en soen is verbode,

Of ’n drukkie as ons wil sê: “Ek is hier vir jou,”

Want ’n veilige afstand moet ons te alle tye behou.

Hier’s ons ingegrendel, ingeperk, ingekerker ...

Die hele wêreld is in lockdown nou,

Met vrae sonder tal: Wanneer is dit alles verby?

Sal alles terugkeer na normaal?

As alles verby is, gaan ons dinge anders doen?

Hoe moet ons met die virus saamleef? Hoe lyk ons nuwe normaal?

Wanneer sal ons weer vry kan asemhaal?

En terwyl niemand meer wonder oor sy komvandaan,

Want die virus is wraggies nou voor ons eie deur,

Het ons soveel uit hierdie pandemie geleer;

Soveel tyd vir binnetoe kyk

En ook leer van hulle rondom ons

Terwyl ons kyk na hulle wat vreesloos,

Sonder maskers, sonder afstand, roekeloos dalk die virus­ dra,

En besef dan alte goed –

Ons lot word nou deur ons keuses bepaal.

Tog, die hoop sal ons nooit beskaam.

Ons sal hier verby kom, dis gewis.

Die virus sal nie vir altyd met ons wees.

Nou kos dit kophou, uithou, aanhou,

Sonder om te vrees

So, stil sal die virus weer verdwyn;

Die letsels sal wel wys

En ons sal dit aan ons lywe voel, en ons sal onthou, lank ná hierdie tyd:

Ons het God nodig in elke stryd;

As dit goed gaan, maar selfs ook as dit sleg gaan.

As ons gesond is, maar ook in siekte is Hy altyd daar.

Selfs te midde van Covid-19 is Hy ons enigste Hoop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters