2 maande gelede
Gordyn sak oulaas vir Loekie

DIE gordyn het op 24 Junie, ná ’n kort siekbed met Covid-19, finaal vir Lucus Jacobs gesak.

Loekie, soos hy in die toneelwêreld bekend gestaan het, was tot en met sy aftrede einde Januarie ’n opvoeder vir 49 jaar. Die gesin woon in La­biance, Bellville.

Hy het sy teatertande onder die leiding van sy alombekende vader, PA Jacobs, geslyp. Mister PA, soos hy deur sy intieme kennisse en vriende genoem is, was die stigter van die Alpha Omega-drama-groep.

In die 1970’s het die meeste teatergroepe in protesteater gespesialiseer. Alpha Omega, daarenteen, het egter volksbesit geword omdat hy meesal teater met ’n moral of geestelike agtergrond opgevoer het. Hoofsaaklik omdat die meeste van sy toneelspelers van interkerklike afkoms was.

Verkies

Gewilde stukke was onder meer As Die Galgtou Weer Swaai, Haar Belofte Aan Mammie, Vreemde Skoen Onder My Bed en my gunsteling, Maak Oop Die Graf Van My Moeder.

Mister PA het verkies dat Loekie eerder met die tegniese dinge hand bysit. Dikwels ook as stemkunstenaar.

Loekie word in die fyner kunsies en geheimenisse van teater geskool vir die dag wanneer hy self die taak en leiding moes oorneem.

Sy vrou, Denise, sê in ’n onderhoud: “Ek het Loekie in 1979 by die Alpha Omega ontmoet. In 1981 het ons getrou.

“Ons het twee kinders, Delicia (’n sakekonsultant) en Jesse (’n fisioterapeut), en sou op 5 September 40 jaar getroud gewees het.”

Denise onthou ook die impak wat drama op haar en haar mede-akteurs se lewe gehad het. Hulle het vol sale in die Wes-Kaap, maar ook in die Oos-Kaap, getrek met hul gemeenskapsgerigte teaterstukke. In ’n tyd toe mense geestelike leiding gesoek het, het die dramas van Mister PA die mense hoop gegee. En hulle, die akteurs, was die draers van dáárdie boodskap.

Later, ná Mister PA se dood, word Loekie die groepleier, ook in beheer van bemarking, klank en beligting. Hy het die regie behartig en ook as videograaf opgetree.

In 2018 het die groep ’n bewuste besluit geneem om te ontbind. Eie verpligtinge en die lede se gesinslewe het swaarder begin weeg.

Op 21 Maart, rondom ’n gesamentlike ontbytsessie in hul Labiance-huis, het hulle vir oulaas oor die “goeie ou dae” gepraat.

Verander

As dit nie gebeur het nie, kon die groep vanjaar sy 64ste bestaansjaar gevier het, want hy is eintlik in 1957 as die “Inspirations-toneelgroep” gestig. In 1971 het die naam na Alpha Omega verander.

Dit is egter tragies om te verneem die meeste van die Alpha Omega-toneelgroep se tekste het verlore gegaan.

Mister PA, en later Loekie, het gepoog om dit op te spoor en vir die nageslag te bewaar, maar hulle kon dit nie kry nie.

Die meeste tekste was handgeskrewe en dikwels aan ander kerkgroepe “geleen” vir opvoerings … net om nooit terug te kom nie.

Wat ’n groot verlies!

Dit was die werk wat pionier-dramaturge soos Mister PA Jacobs en Loekie gedoen het, wat die jonger geslag dramaturge, soos vir my, gemotiveer het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters