2 maande gelede
Gee jou hart vir Alicedale
 ~ 

’N PAAR jaar gelede was ek vir 'n wyle in die Oos-Kaapse dorpie Alicedale.

Terwyl ek en twee kollegas op pad was om ’n gemeenskapsvergadering daar by te woon, is ek ingelig oor die groot armoede wat daar heers. Armoede wat dreig om die bestaan van dié gemeenskap te vernietig.

Dit was sterk skemer toe ons in Alicedale aankom.

Terwyl ons na iets te ete en te drinke soek, het ek skielik onthou: Dis in Alicedale se vrugbare grond waar die digter Vincent Oliphant se familiewortels geplant is.

Gegewe die gehalte van Oliphant se poësie is dit ietwat hartseer om te dink dat Alicedale – wat volgens die inwoners in armoede verval het – die lewe geskenk het aan ’n woordkunstenaar van so ’n hoë gehalte.

As jy na die mense se baie probleme luister, wil jy vra: Maar waar is die ander Vincent Oliphante van Alicedale dan?

Op die vergadering is probleme soos misdaad, werkloosheid, tienerswangerskap, onbekostigbare skoolgeld en behuising uitgelig.

Maar toe staan ’n ou omie op en sê: “Ons huise raak vol, want die tjinners kry tjinners. Ook die grafte raak vol, want hier’s te veel tjinners en ons het nie geld nie.”

Sy woorde het in my kop vasgesteek; my laat dink en herdink.

In die saal het ek nuuskierig rondgekyk. Jong meisies – of kinders – het met kinders in hul arms rondgeloop.

Ek het gewonder wat die oorsaak van tienerswangerskap is. Dis nadat ’n omvattende studie deur die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling be­vind het kindertoelaes is “definitief nie” ’n aansporing vir tienerswangerskap nie. Dié studie wou glo bepaal wat die impak van maatskaplike toelaes op die gehalte van die begunstigdes se lewe is.

Gesels jy met plattelanders, dan skets hulle ’n donker prentjie oor die uitwerking van die kindertoelaes.

Dit laat ’n mens wonder hoe akkuraat die studie was. Waar het dit plaasgevind? Is plattelandse gemeenskappe ook in ag geneem? En hoeveel mense is betrek?

Dis belangrik om dié vrae te stel, want tienerswangerskap vererger armoede.

Gegewe die noodkrete vir armoedeverligting vir die Alicedale-gemeenskap op die vergadering, besef ek weer dat die uitwissing van armoede ’n reusetaak is.

Kindertoelae, ongeskiktheidstoelae en pensioengeld raak almal in Alicedale.

Dié omstandighede wil ’n mens amper laat ja sê vir ’n basiese inkomstetoelaag vir die armes. Maar al sou ’n basiese inkomstetoelaag eendag ’n werklikheid word, sal dit aanvaarbaar wees dat begunstigdes ’n takie daarvoor sal moet verrig.

Dit sal dan nie as handouts kwalifiseer nie omdat hulle vir hul toelaes gewerk het.

Alicedale is ’n harde wêreld en David Kramer se “Kruispad” is ’n reality check vir die Karoo wat dit dalk die beste beskryf: Dit is pikswart daarbo/ dit is ’n donker Karoo/ ek het baie om te sê/ maar niemand wil my glo/ O die hemel is nie so nie

Johannes Kerkorrel sing: “Gee jou hart vir Hillbrow ...” Ons kan gerus ook sing: “Gee jou hart vir Alicedale.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters