Verlede maand
Erge realiteit laat trane loop
 ~ 

IN HIERDIE moeilike tyd waardeur almal gaan, wil ek soms net my arms uitsteek en iemand ’n drukkie gee.

Veral iemand wat ’n geliefde weens Covid-19 aan die dood afgestaan het.

Maar dan onthou ek ons is in ’n pandemie en dat fisieke aanraking so ver moontlik vermy moet word.

Vir my en almal om my se veiligheid moet ek liewer by die reëls hou.

Nie ’n enkele dag gaan verby dat ek nie die woorde “Gone too soon” of “Rest in peace” op Facebook sien nie.

Dis woorde wat selfs die sterkste mens stukkend kan breek. Woorde wat die trane laat vloei.

Ek het onlangs ’n knop in my keel gekry toe ek ’n ou skoolvriendin bel om met haar te empatiseer.

Ek wou empatiseer oor die heengaan van die mense na aan haar en haar sterkte op die pad vorentoe toewens.

Haar hart was te seer om ’n woord uit te kry.

Gebede

Sy het net gehuil, want drie naweke agtermekaar moes sy familielede ter ruste gaan lê.

Hoe hanteer ’n mens dit? Ek wou net hê sy moes weet daar is mense wat omgee en haar in hul gebede opdra.

Dit is ook so dat nie almal wat Covid-19 opdoen, daarvan doodgaan nie.

’n Groot persentasie oorleef om hul ondervindings met die wêreld te deel.

Toe ’n vrou oorkant die pad verlede jaar uitvind haar jongste dogter is swanger, was die teleurstelling duidelik in haar oë te sien.

Sy het geen geheim daarvan gemaak dat sy nie haar dogter se boyfriend goedkeur nie.

Sy het haar egter voorgeneem om nie in te meng nie omdat haar dogter nie meer minderjarig is nie.

Sy is oud genoeg om haar eie besluite te neem.

“Kinders wil mos altyd eers hul kop stamp voordat hulle leer,” het sy gesê.

Asof dit nie erg genoeg was dat die vrou haar oor haar kind se swangerskap moes bekommer nie, het sy boonop siek geword.

Ernstig siek. Covid-19 het sy kloue in haar geslaan.

Die vrou het in die hospitaal beland waar sy weke aan pype gekoppel was.

Sy sê by tye het sy in ’n diep slaap verval en wanneer sy wakker geword het, het sy geen benul gehad van die dag of datum nie.

Realiteit

Maar die vrees dat haar kleinkind sonder haar as ouma kon grootword, het haar lewend gehou.

Sy het geweier om op te hou veg.

Sy vertel van pasiënte wat die een dag nog daar was en die volgende dag net weg.

Vir ewig weg. Sy sê sy voel hartseer vir mense wat dink Covid-19 is nie ’n realiteit nie.

Lang storie kort: Die vrou het Covid-19 oorleef en kan haar ondervinding met ander deel, soos wat sy gevoel het om met my te doen.

Daar is egter ’n ander seer in haar oë as sy noem sy het nooit die voorreg gehad om haar jongste dogter se baba vas te hou nie.

Die noodlot het ingegryp en anders besluit. In haar eie woorde: “Die Here weet altyd van beter.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters