6 maande gelede
Ekonomie hiéroor pad byster
Al-Ameen Kafaar  ~ Foto Verskaf

EEN voordeel van die Covid-19-lockdowns is die merkbare afname in padsterftes in die land.

Van 1 Desember tot 11 Januarie het 1 448 mense op ons paaie gesterf, vergelyke met 1 616 sterftes vir dieselfde tyd in 2019-2020. Die afname in sterftes oor 2020 se Paasnaweek was groter: 28 vergelyke met 162 die jaar tevore.

Dié afname word grootliks toegeskryf aan die minder voertuie op die pad eerder as aan veranderde gedrag.

Padsterftes is duur. Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het padsterftes die land in 2015 R14,95 miljard gekos.

Dis 3,4% van ons GDP. Dus, R3,40 van elke R100 wat die land in 2015 op goods and services spandeer het, is aan padsterftes afgestaan.

Die WHO ontmoedig deur sy Global Road Safety Partnership die gebruik van die woord “ongeluk”. Die nalatige, roekelose padgebruik wat baie “ongelukke” veroorsaak.

Jaarliks sterf ongeveer 1,35 miljoen mense wêreldwyd en 50 miljoen raak gestremd weens dié roekeloosheid en nalatigheid.

Volgens RTMC-navorsing van 2015 kos dit die land so R5,4 miljoen vir elke geval op ons paaie waarin minstens een mens sterf en ander seerkry. Dit kos so R3,9 miljoen vir elkeen wat op die pad sterf.

Met R14,95 miljard kon ons ongeveer 241 skole gebou het soos dié wat die regering in 2015 in Bonnievale gebou het of 28 van die halfmiljardrand-hospitale wat in 2015 in Mitchells Plain gebou is.

Die weerloosste padgebruikers is voetgangers. Hulle maak ongeveer 40% van alle padsterftes uit. Statistieke voor die lockdown in Maart toon die meeste kinders sterf tussen 12:00 en 19:00 op weekdae. Dis die tyd dat hulle van die skool af kom en smiddae tot vroegaand is wanneer hulle speel. Die meeste is seuns.

Volwasse voetgangers sterf tussen 15:00 en vroegoggend. Dis die tyd dat hulle van die werk af kom of naby hul woning rondbeweeg.

Baie wat baie vroeg die oggend doodgery is, was dronk. Hulle was gewoonlik nie duidelik sigbaar nie.

Statistieke toon die getal padsterftes en arrestasies vir dronkbestuur neem toe sedert drankverkope vanaf Februarie weer toegelaat word.

Aanrandings en gesinsgeweld het ook toegeneem. Dit lyk asof Suid-Afrikaners met drank die “nanny state”-benadering nodig het, waar die regering oormatig beskermend moet optree ten koste van persoonlike keuses.

Padsterftes, veral alkoholverwant, is ’n epidemie wat ons nie kan bekostig nie.

Ál wat nodig is om dit te laat afneem, is verantwoordelike omgang met drank.

Motoriste beskou voetgangers dikwels as ’n pyn in die agterent. Maar onthou, hulle het nie ’n kans teen jou en jou voertuig nie. So, ry stadiger wanneer voetgangers naby is, wees op die uitkyk vir veral kinders en moenie agter die wiel klim wanneer jy gedrink het nie. Moenie jou foon gebruik terwyl jy bestuur nie.

Voetgangers, dra klere wat reflekteer en maak seker motoriste sien jou. Bly uit die pad van aankomende verkeer. Moenie in die pad stap wanneer jy dronk is nie. Moenie loop en boodskappe tik of met oorfone hard musiek luister nie.

Dis ’n tyd van finansiële swaarkry. Doen jou deel om padsterftes te verminder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters