16 dae gelede
Ek was lekker rooi in die gesig
Salmon Smith  ~ Foto Verskaf

‘AARDE, sluk my in!”

Ja, ons almal ken dié gesegde wanneer jy daai rooigesig-oomblikke ervaar; waar jy voel dat jy soos Sam Casey van ouds net jou horlosie se knoppie wil druk en verdwyn.

Maar soos ons almal weet, gebeur die verdwyngoete net innie tievie-stukke en movies. Ons moet maar self met die wrede werklikheid deal, soos wat ek ook daardie spesifieke dag moes doen.

Ek bevind my in die besige N1 City-winkelsentrum.

Bygesê, in my lewe as vryskutjoernalis en skrywer vir die Oom Sonnie-blad én deur Boeta Sallies, my funny karakter in die sosiale media, ontmoet ek mos baie mense.

Sommige keer my selfs op straat voor en knoop sommer ’n geselsie aan.

Dan moet ek maar vriendelik saam gesels, want ek wil my mos nie graag voorhou wat ek nie is nie, soos sommige mense mos gewoonlik sê.

By the way, terwyl ek nog so window shopping doen, sien ek toe hierdie ou uit die hoek van my oog. Hy steek vas toe hy my sien. Daar verskyn ’n uitdrukking van herkenning op sy gesig en toe pyl hy reg op my af.

Sy gesig wil vir my bekend lyk, maar dit kon my nie byval waar ek die bra ontmoet het nie.

Dalk by ’n music gig wat ek moes cover­ vir die koerant, of dalk nie.

“Jis, Salmon, howzit my bra?” groet hy my en adverteer Colgate.

Ek sweer, as daai ore nie daar was nie, dan was daai smile reg ommie kop.

Terwyl ek nog met ’n bek vol tande staan, laat loop die bra met sy verbal diarree so asof ons mekaar al jare lank ken.

Dít terwyl ek nog probeer uitfigure wie die ou nou eintlik is. En ek wil mos nou nie onbeskof klink en hom vra nie.

Motjie

Nee, hy kon nie ’n Boeta Sallies-follower wees nie, want hy noem my op my voornaam. Ook beslis nie ’n oudkollega nie, want dan sou hy my op my van genoem het.

Verder uhm-uhm ek maar voort om die sogenaamde gesprek te laat vloei.

Skielik, tot my groot verligting, maak die bra toe aanstaltes om te loop. “Sien weer, Salmon!” groet hy.

Ek besef toe dat ek darem ook iets móét sê: “N-nee dis reg ou mater. Mmm … Stuur groete vir jou motjie!”

En daar steek die ou vas en kyk my so snaaks aan. “M-maar my vrou is dan laas jaar weens Covid dood. Jý het dan ook op Facebook gesimpatiseer!” sak hy af.

En daar staan ek rooi in die gesig en wens die aarde sluk my in.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters