3 maande gelede
Ek sal vir ewig en altyd stap
André Smith  ~ Foto Verskaf

EK IS ’n stapper. Was maar nog altyd een en sal maar altyd een bly.

Ek dink dit moet iets te doen hê met die dromer, die denker en die skrywer binne my. Daar is net iets aan stap wat die onmoontlike in my moontlik maak.

Ek moet darem ook vinnig bysê – ek is nou nie jou tipiese sportman of oor­drewe sportmal tipe ou nie.

Waardering en bewondering vir die mooiheid van enige sportsoort is daar natuurlik oorgenoeg van by myself te kry, maar geen begeerte om ’n Siya Kolisi- of ’n Caster Semenya-droom na te jaag nie.

In my matriekjaar het ek die 1 500 m-stap aangedurf. Ek het tweede laaste geëindig.

My tweede sportpoging was ’n vriendskaplike rugbywedstryd in my derde jaar op kollege.

Wat my besiel het om vir hierdie uitdaging ja te sê, weet ek nou nog nie. Wat ’n fiasko!

Ek het eerder aanhou stap. Dit was en is vir my lekker. Dis net so wonderlik wat alles in daai klompie minute of dalk ’n uur of wat op die pad kan gebeur.

Dis net jy en die oop stuk pad en die natuur voor jou.

Dis nou as jy so gelukkig is soos ek om in een van die mooiste plattelandse dorpies in die Swartland te bly.

My staptyd is elke dag vir my ’n heer­like besieling.

Dis waar my drome begin vorm en vlerke kry. Dis waar die wilskrag ingeboesem word om die onmoontlike moontlik te maak.

Dis waar die geloof in die self gesement word en tot aksie oorgaan.

Nog ’n lekker deel van my stap is die mense of mede-stappers wat ek dikwels raakloop.

Party is vriendelik, ander nie.

Meermale neem ek maar die inisiatief om eerste te groet en van my te laat hoor, want ek het al agter­gekom dat ons soms so sku vir mekaar is: so oorversigtig om daardie eerste stap te neem en oogkontak te maak.

Ons is so intens bewus van soveel uitdagings in ons land dat ons soms te bang is om te waag om uit te reik na die volgende persoon.

My ontdekking sover is dat jy verbaas sal staan as jy bereid is om daardie eerste stap te neem.

Geselsie

Net ’n vriendelike groet is wat die ander persoon dalk nodig het om vir ’n wyle te vergeet van al die sorge wat ons soms kollektief deel.

Daardie twee minute se geselsie so tussendeur die stap kan die wêreld se verskil maak en baie vir die volgende persoon beteken.

Daardie kosbare paar minute het jy die voorreg om ’n nasiebouer te wees; of jy nou die eiendomsmagnaat, die huishulp, tuinier, skrywer, boukontrakteur, winkelassistent, seisoenwerker of wie ook al op jou wandeling raakloop.

Vir daardie paar minute het ek die mag om ’n stukkie hemel op aarde saam met iemand te deel.

Aan die einde van die dag is dit mos maar eintlik die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.

Ek is ’n stapper. Was maar nog altyd een en sal maar altyd een bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters