2 maande gelede
Ek glo aan ‘kies jou ouers’
Al-Ameen Kafaar  ~ Foto Verskaf

EK glo aan “kies jou ouers”.

As ek reg gekies het, sou ek nou heel waarskynlik elke dag tot ounag gefuif het op Madrid se Puerta del Sol-plein.

Of ek sou by die Ageas Bowl in Southampton die onlangse kriekettoets tussen Indië en Nieu-Seeland gaan kyk het.

Ek sou beslis nie by die onlangse Trump-massa­byeenkoms in Ohio gewees het nie. Die meeste van daai supporters is sonder twyfel nog nie ingeënt nie en glo die stront dat die entstof van die duiwel is, almal in zombies gaan verander, en dat dit ’n Bill Gates-sameswering is om almal te beheer.

Nie dat ek veel beter af is as daai klomp dom rassiste nie. Die enigste verskil is hulle kan kies of hulle die inenting wil hê of nie. Ek moet maar soos geduldige Hansie wag.

Onvoorspelbaar

Gelukkig het my vrou klokslag middernag op 1 Julie almal 50 jaar en ouer wat hul besonderhede vir haar gegee het, geregistreer vir die jab.

Suid-Afrika se inentingsprogram vind teen ’n slakkepas plaas. Die Covid-19-dinamiek in SA was sedert die ontstaan van die epidemie onvoorspelbaar en veranderlik.

Die keuse van die regte entstof was grootliks afhanklik van hoe effektief dit sou wees teen die variant wat dominant was in Suid-Afrika – net voor die Delta-variant.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, het dit onlangs op die BBC se HardTalk goed verduidelik.

Schoub was uiters diplomaties toe hy die kwessie van vaccine nationalism aanroer. Dit het ter sprake gekom toe Westerse lande die meeste inspuitings nog voor produksie opgekoop het.

Voordat die verskillende entstowwe as veilig geklassifiseer is, het Amerika, Brittanje, Japan en die Europese Unie alreeds miljoene gekoop.

Die British Medical Jour­nal berig Amerika het 800 miljoen inspuitings verseker, met die opsie om nóg 1 miljard aan te koop.

In 2019 was daar 328,2 miljoen mense in Amerika. Brittanje het 340 miljoen inspuitings gekoop – vyf vir elkeen van sy burgers.

Daarom kon daai MSP, alles hoofletters, bold en underlined, Boris Johnson, premier van Brittanje, vir sy kollegas in ’n geslote vergadering sê “kapitalisme en gierigheid” was die wenresep vir Brittanje se suksesvolle inentingsveldtog.

Befondsing

Suid-Afrika en die res van die ontwikkelende wêreld moet maar met die agterspeen, Covax, tevrede wees.

Covax is ’n program van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dit beoog om 2 miljard jabs teen die einde van 2021 aan 20% van die kwesbaarste mense in arm en middelinkomstelande in Afrika, Asië en Latyns-Amerika te lewer.

Reuters berig interne korrespondensie toon egter Covax sukkel met befondsing, en dat aanvraag-risiko’s en ingewikkelde kontraktuele reëlings gaan voorkom dat dié doelwit bereik word.

Nou waar in Godsnaam het my oorlede ma se boere- vriendin in die Andries Hamman-tehuis in Worcester, of auntie Shariefa van Bonteheuwel wat saam met my by Simeka PR gewerk het, of Mavis Tolbadi wat so pligs­getrou na my twee dogters gekyk het, ’n kans teen die agt-gedagte van Boris John­son en sy soort?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters