8 maande gelede
Dit wat jy daar sê, is true, Bob
 ~ 

IN ’N vertrek waar die Krismisliggies uitgedoof was en ’n flikkerende kers teen ’n koel windjie gestry het, het ek hoopvol gewag op die koms van ’n nuwe jaar.

Vader Tyd het sy job gedoen terwyl die ou jaar met die slaan van elke uur sy greep op die hede verslap en agter die bult verdwyn het soos ’n bankrot plaas wat vir die soveelste keer ’n mislukte oes gelewer het.

Terwyl my vingers oor die foonskerm blaai, stroom die Nuwejaarswense in.

’n Vriend se WhatsApp-status was ’n muur van herinnering.

Dit het verbyflitsende foto’s bevat van geliefdes en vriende wat nie met die begin van die nuwe dekade kon bladskud nie.

Op ’n begrafnisbrief smile ‘n couple en die onderskrif lui: “Life brings tears, smiles and memories. The tears dry, the smiles fade, but the memories last forever.”

In die vroeë ure van die eerste dag van die nuwe jaar vind ek my inspirasie vir die ongekende dae wat wag.

Ek luister na Bob Marley and The Wailers se “Three Little Birds”.

Dit maak vir my sin dat ’n mens in die oomblik moet lewe.

Ons moet mekaar waardeer terwyl ons mekaar het, want ons is net vir mekaar geleen.

Neem genoeg foto’s om die herinnering te verewig, en wanneer die dood met sy grys kleed instap, dan moet trane van dankbaarheid vloei vir al die mooi oomblikke saam.

Niemand van ons bepaal ons eie lot nie.

Tyd is ’n luukse wat niemand besit nie.

Ons moet die skakerings van mooi oral kan waarneem – al raak die dae grys.

Iewers gaan ’n sonstraal deur die donker wolke skyn en gevoelens weer sagmaak.

Dít is die boodskap van boeta Bob se gewildste feel-good song.

Die lewe bied ons nie alles nie, en alles wat ons besit, bied ons nie ’n lewe nie. Net so is alles wat ons besit maar net leengoed.

Dit is ’n pynlike waarheid soos ’n tatoeëermerk.

Tony Gilbert, ’n vriend van Bob Marley, reken dat die sanger se inspirasie vir die liedjie spruit uit sy waarneming van drie kanaries.

Dié eenvoudige voëltjies was vir hom die mooiste van die geveerdes.

Die sanger het hulle elke dag met waardering dopgehou terwyl hulle gesit het op die vensterbank van die huis daar by 56 Hope Road, Kingston, waar die Jamaikaan gewoon het.

Vir Bob Marley was die kanaries ’n geskenk van die natuur.

Dis dalk nie toeval dat die song ingesluit is op sy album Exodus nie.

Mense wat ek eens in hierdie plaagbesmette wêreld geken het, het ophou leef en “anderkant toe” geëmigreer.

Lirieke

Verlede jaar met die uitbreking van die corona-virus het die Brit Robbie Williams Bob Marley se “Three Little Birds” gesing vir sy sogenaamde “Corona-oke” op Instagram.

Die lirieke lui: “Don’t worry ’bout a thing.

“ ‘Cause every little thing is gonna be alright.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters