6 maande gelede
Dis darem lekker om die rotresies agter te laat
 ~ 

SEDERT 1 Januarie 2021 is ek amptelik my eie baas.

Nee, ek het nie die Lotto gevang en my baas in sy office loop vertel wat ek ál die jare van hom dink nie.

En nee, ek het ook nie ’n sakvol handreinigers en gesigmaskers huis toe gedra en is toe summier afgedank nie.

Ek het ook nie Maantitis, daai siekte wat maak dat mense nie Maandae werk toe gaan nie. Nee, nee, ’n duisend maal nee...

Ek is amptelik ’n afge­tredene. Ek het die ouderdom bereik dat ek myself van werk mag verskoon.

En die grootbase by my werkplek (laat ek die naam verswyg) het gedink dis alles oukei!

Nou mag ek met feitlik niksdoen elke dag my eie ding doen.

Horde

Sedert my aftrede het my week nie meer ’n Maandag of die Baas se Dag nie. Nee, elke dag is nou My Dag.

Nou kry ek die tyd om daai horde boeke te lees wat ek so deur die jare met my af­geknypte “Kykie Hoorie!”-geldjies gekoop het.

Nou kry ek kans om die ou doen-dit-self-takies in en om die huis self te doen... soos ek wil en wanneer ek wil.

Ek het mos nou nie meer ’n baas nie.

My vrou is nie my baas nie, sy is my vennoot. En soms, net soms, my gewete.

Nou doen ek dinge wat vir my lekker is. Soggens vroeg sal ek my hardloopskoene aantrek en pad vat.

Teen die tyd dat werkendes hulle by hul werkplek aanmeld, het ek al 10 km se padwerk agter die rug. Ander dae weer sal ek my geliefde herdershond, Woolfe, se leiband aansit en ’n rustige stappie met hom neem.

Daai woorde wat die Chinese so graag rondgooi, “Om af te tree is maar die begin van die dood”, werk nie vir my nie.

Ek is nog springlewendig en het gelukkig ongeskonde uit die rat race gekom.

Mense vra my dikwels waarom ek nie maar nog aan gewerk het nie, veral omdat ek nie juis aftree-ouderdom lyk nie.

My antwoord aan hulle is standaard: Ek wil aftree terwyl ek nog dinge vir myself kan doen.

En een van daardie dinge is om die paar boeke te skryf wat ek in my binneste ronddra.

Oer-grootjie

Dis vir my belangrik om my komvandaan-verhaal vir my nageslag neer te pen.

Geslagte wat ná my dood kom, moet nie wonder waar ons familiewortels lê nie. Of wat ons gedurende die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika gedoen het nie.

Hulle moet weet wat hulle oupa of oer-grootjie se bydrae tot die struggle was! So, lesers, watch this space ...

Party oggende, as die oggendgewoel in my huis en in my straat en omgewing begin rustig raak, dan betrap ek my dat ek valserig die liedjie neurie: “Dis lekker om te lewe ... ja, dit is!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters