2 maande gelede
Die tyd leer mens aanpas

EK NEEM my elke keer voor ek gaan nie oor Covid-19 of die pandemie skryf nie.

Dis mos genoeg as ons elke dag daarvan in koerante moet lees, op TV sien en in die sosiale media hoor. Maar hoe gemaak as hierdie einste onderwerp deesdae die hoofpunt is waarom ons lewe draai?

Ons kan tog nie soos volstruise ons kop in die sand steek en ons verbeel dié ding bestaan nie!

Die onsigbare vyand is hier onder ons en as ek reg verstaan, gaan dit nog ’n lang tyd met ons wees. So, ons doen wat ons kan en ons pas ons lewe hierby aan.

Dit is nie altyd maklik nie, maar saam met die pandemie het daar ook talle positiewe dinge gekom.

Vir die eerste keer weet almal (tot die kleuters) wie ons land se president is. ’n Driejarige krap ywerig in sy neus terwyl hy na die TV-skerm wys: “Mamma, da’s oom Shirrel!”

Die ogies blink opgewonde, maar die smile is halfhartig. Want ja, self met sy kleingeid en ál voel hy aan oom Shirrel bring nie altyd goeie nuus nie.

Ek het ook ’n paar van die kabinet se ministers leer ken. Die spookies.

Behalwe Angie, die minister van basiese onderwys, het ek gewonder oor die ander se bestaan. Vir die eerste keer hoor en sien jy die res van ons land se ministers en jy leer ken hul tekortkominge en hul gebrek aan ... Laat ek liewer stilbly.

Ten minste weet ons nou wat hulle voorheen NIE gedoen het NIE.

Dis ’n tyd van eerstes. Nuwe dinge. Verandering en aanpassing.

Ons leer om kreatief en innoverend te wees; leefstyl-aanpassings te maak.

Ons spaza shop verkoop nie meer die Son-koerant nie en sy melk word suur. (Mense drink nie minder koffie nie, maar melk het net ’n luukse geword.) Almal trek swaar.

Ek koop 10F melk vir next to nothing, gooi asyn by en maak hope lekker fetakaas.

Perfek

My vriendin oppie plaas kan nie meer vir my potbrood bak en bring nie, so ek maak my eie.

Dit kom perfek uit! Dit proe nou wel nie soos hare nie, maar dit proe baie beslis soos my eie.

Ek kry ’n klomp olywe en google vir inlê-resepte.

Sjoe! Die besigheid is ingewikkeld en die proses neem weke lank!

Maar nou ja, ek gaan mos nêrens nie. So hoekom nie?

Die een dag in die week wat ek die olywe se water met vars water moet vervang, word een van die hoogtepunte in my week!

Saterdae maak ek gewoonlik vir my honger gesin ’n groot pot breyani of pap en vleis of sommer potjiekos.

Nou doen ek dit enige dag van die week, want sien ... dae en tye is irrelevant.

Maandae is nie meer blou nie; ek kan enige ander dag die wasgoed was.

Lekkerste van alles is, die lewe is nie meer so gejaagd nie.

Die belangrikste van alles is die kosbare tyd wat jy met jou gesin deurbring.

Saans bid ek soos Jesus in die tuin van Getsémané; “Vader, laat hierdie bitter beker by my verbygaan ... maar laat U Wil geskied.”

Bedags neem ek die suurmelk wat die lewe my gee en maak kaas. Almal hou mos darem van kaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters