25 dae gelede
Vrou wil niks weet van man se liefdeskindjie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK SIT met ’n sad keuse wat ek moet maak.

Antie, ek is nou reeds 10 jaar getroud en het twee prag­tige kinders.

Ek het onlangs uitgevind ek het ’n 12-jarige dogtertjie by my verloofde van 13 jaar gelede.

Sy is twee maande gelede weens Covid dood. Mag sy in vrede rus.

My dogtertjie is in haar ouma se sorg geplaas waarna die ouma ná ál die jare na my uitgereik het.

As gesin was dit ’n groot skok om van als te hoor.

My dogtertjie het die laaste vier naweke by ons gekuier sodat ons haar kan leer ken.

Sy is ’n pragkind ten spyte van als wat sy deurgemaak het.

Ouma wil hê sy moet by ons kom bly, wat vir my sin maak. Dis my kind en ek kan vir haar ook sorg as haar pappa.

Die kinders kom mooi oor die weg en is opgewonde oor nóg ’n sussie.

My vrou aanvaar my kind egter glad nie en wil niks weet dat sy by ons kom bly nie – maak nie saak hoe mooi ons praat nie.

Sy sal trek as my dogtertjie hier kom bly, het sy gesê.

Hoe kies ek tussen my gesin en my dogtertjie, wat klaar so ’n swaar tyd deurgaan?

Ek sien hierdie as ’n tweede kans om my kind te leer ken nadat ek vir soveel jare nie van haar bestaan bewus was nie.

Hoe maak ek? vra ek met trane in my oë. Hoe maak ek?

Die ouma kan nie na haar kyk nie. Hoe kan ek toekyk hoe my eie vlees en bloed na die staat moet gaan, iewers in ’n huis geplaas word en weggegooi voel? Gebroke Pappa, WhatsApp

Jy kan dit nimmer as te nooit toelaat nie. Nié terwyl dié jou kans is om vir jou eie vlees en bloed die lewe te gee wat sy verdien nie.

Die arme kind is al deur soveel trauma. Haar mammie is dood, haar ouma is nie meer so jonk nie en daar is geen waarborg dat hierdie ouma nog lank in die land van die lewendes gaan wees nie ...

Ongelukkig blyk jou vrou die dr*l in die drinkwater te wees. En dis eintlik sad, want as ’n ma behoort sy te weet hoe belangrik ’n huis vol liefde vir hierdie kind van jou is.

Dié is ’n uiters moeilike situasie waarin sy jou plaas. Hoe kan daar van jou verwag word om te kies tussen jou huwelik en jou eie vlees en bloed?

Om nou te dreig om uit jul huis en huwelik te stap, is net plein koud van haar.

Ek kom agter jy en die kinders het al kliphard probeer om haar te oortuig om van haar sienswyse te verander, maar julle loop julle vas teen ’n brick wall wat eenvoudig nie wil bes gee nie.

Daar is soveel kinders in hierdie lewe wat na liefde smag en wie se lewe tragies uitdraai weens ’n gebrek aan daai liefde.

Jy durf nie jou kind op so ’n paadjie laat beland nie.

Antie is eintlik sprakeloos. Want wat kan ’n mens sê van ’n vrou wat ’n pa met mag en mening wil weghou van sy kind?

Wat kan ’n mens nou sê van ’n vrou wat haar hart so kliphard gemaak het vir hierdie dogtertjie wat reeds aan die seer van die lewe blootgestel is?

Antie hoop vir jou, jou kind en jou ander twee kinders se onthalwe dat julle kan deurdring tot jou vrou.

Selfs al kry sy haar sin, besef sy nie die skade wat buitendien aan jul huwelik aangerig gaan word nie.

Haar optrede sal jou verbitterd teenoor haar en jul huwelik maak.

Hou aan om die issue te push.

Laat haar weet sy en die kinders gaan en sal altyd ’n belangrike deel van jou lewe uitmaak, maar dat jy nie jou kind kan weggooi asof sy sommer ’n ou Shoprite-plastieksakkie is nie.

Dit sal dalk ook help as jy iemand in die familie kan kry wie se opinie sy value en na wie sy sal luister.

Iemand wat haar daaraan kan remind dat daar nie na rand en sent gekyk moet word wanneer ’n kind ter sprake is nie.

Jou dogter is deur genoeg. Wat sy nou in haar jong lewe nodig het, is ’n bietjie sonskyn en gemoedsrus. Sy need om te weet dat haar derra haar back het en sal sorg dat sy nie deur hierdie wrede wêreld ingesluk word nie.

Ek salute jou vir die mens en pa wat jy is. Vir my is dit ’n bewys dat daar nog meer as genoeg goeie pa’s daar buite is.

Tans is dit belangrik dat jou vrou aan almal van ons wys dat sy nie ’n hart van marmer het nie, want wat sou sy van jou verwag het as die skoen aan haar voet was?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters