2 maande gelede
Vrou se dwalende oog neuk ons huwelik op
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS al jare ’n diabeet, maar het onlangs eers my natuur verloor.Ek is nou te skaam om te date of vrou te vat.

Is daar enige hulp wat vir my sal werk?

Asseblief, ek is nou 45 jaar oud, maar nog goed gebou. – Moedelose Man, WhatsApp

Erektiele disfunksie (ED) is niks om oor skaam te wees nie – dit kan een of ander tyd met enige man gebeur.

Onderliggende mediese toestande soos diabetes kan egter jou “natuur”, soos jy dit stel, beïnvloed.

As jy ’n internet search doen, sal jy sien daar is ’n magdom produkte op die mark wat almal beloof om die wroem terug in jou enjin te sit. Antie glo egter dat ’n mens al dié wonderlike beloftes met ’n knippie sout moet vat.

Gaan sien eers jou GP en laat hy/sy ná ’n ondersoek ’n produk voorskryf of aanbeveel wat vir jou sal werk.

Moenie skaam wees nie. Jou dokter is daar om jou te help en jy is glad nie al mansmens op aarde wat ’n probleem of twee onder die belt ondervind nie.

Hopelik kry die dok jou enjin gou weer aan die rev sodat jy die nodige confidence kan opbou om jou liefdeslewe te hervat.

Liewe Antie Mona

EK EN my vrou is tans van bed en tafel geskei.

Daar is baie probleme in ons huwelik wat ons sukkel om uit te werk.

Een van die grootste probleme is haar dwalende oog.

In die 10 jaar dat ons getroud is, het sy my al met verskeie mans verneuk. Elke keer vergewe ek haar, maar ek kan nie meer nie, Antie.

Ek is lief vir die vrou en ons kinders. Dit is juis aan ons kinders wat ek dink en hulle is die rede dat ek nog nie geskei het nie.

My vrou is nou weer deurmekaar met ’n jong outjie wat nie ver van ons af bly nie. Sy chat nou laatnag soos watse jong meisie met hierdie ou.

Sy stry en sê hulle het nog nie geseks nie, maar ek glo nie meer ’n woord wat uit haar mond uit kom nie. Ek wil skei, maar haar ouers skop teen die karre. Hulle sê ’n huwelik is tot die dood ons skei. In die verlede het ek ingegee en weer probeer, maar dinge gaan net goed vir ’n tydjie, dan is sy maar weer besig met haar dinge.

Haar ouers is nou skoon kwaad vir my omdat ek wil skei en praat al weke nie met my nie. Hulle maak dan nou asof ék die vark in die verhaal is.

Maar daar was nog nie een keer wat ek my vrou verneuk of met lustige oë na ’n ander vrou gekyk het nie. Ons kinders is ook al oud genoeg en verstaan alte goed waarmee hul ma besig is. Hulle is nie impressed met hul ma nie en my dogter het reguit aan my gesê sy support enige besluit wat ek gaan maak. – Teleurgesteld, WhatsApp

Daar het jy jou antwoord: jou kids staan bankvas agter jou en dit is ál wat supposed is om te tel.

Hoeveel kans wil jou vrou dan nog hê voordat sy haar dinge laat staan? En verder versterk haar eie ouers haar net in haar jol-kwaad.

Sy weet jy is lief vir haar. Sy weet haar ouers ondersteun haar. Daarom voel sy sy kan eenvoudig maar net met haar dinge aankap.

Net omdat jy in jou vows beloof het om deur dik en dun by jou vrou te staan, beteken nie jy moet vir ’n pop gevat word nie. Jou geduld het die reg om al dun geskaaf te wees oor die dinge wat jou vrou in jul huwelik aanvang.

G’n vrou wat selfrespek, respek en liefde vir haar gesin het, vang sulke dinge aan nie. Sy gee dalk haar lyf ’n gawe tyd, maar júlle is die mense wat daaronder ly.

Dit is tyd dat jy jou en die kinders se geluk vir ’n slag eerste stel.

Liewe Antie Mona

MY OUTJIE het my sonder rede gedrop. Hy sê dis tyd om aan te beweeg.

Maar ek kan nie aanbeweeg nie, want ek is dan so lief vir hom. Hoe kan ek hom terugwen? – Verlore Girl, WhatsApp

Liefie, jy kan nie iets terugwen wat nie teruggewen wil wees nie.

Hy het sy gevoelens duidelik gemaak en hoewel dit seermaak, is dit in jou beste belang om aan te beweeg. Mettertyd sal jy besef dat hierdie sý loss was en beslis nie joune nie. As hy nie eens ’n rede vir die break-up kan gee nie, is daar g’n rede oor hoekom jy na hom hoef te verlang nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters