14 dae gelede
Vrou is in haar dop ná dood ons kind wegruk
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my vrou het in 2017 ’n groot terugslag beleef toe ons seuntjie in ’n ongeluk gesterf het.

Ons seuntjie was daardie tyd vyf jaar oud en ek en hy was op pad winkel toe toe ’n dronk jong in ons vasgejaag het.

Antie, om ’n kind aan die dood af te staan is nie ’n lekker gevoel nie – veral nie omdat jou kind nog sy hele lewe voor hom gehad het nie. Kinders moet hul ouers begrawe en nie andersom nie.

Sedert daardie tragiese dag is dinge nie lekker tussen my en my vrou nie.

Daar is nog twee ander kinders, maar dis asof ons nie vir haar bestaan nie.

Sy is heeltemal in haarself gekeer en wil nêrens behalwe werk toe gaan nie. Sy gaan nie eens meer kerk toe saam ons nie.

Antie, sy sê nie reguit so nie, maar ek kry ál die jare die gevoel dat sy my vir ons kind se dood blameer.

Ek was die een wat aangehou het hy moet saam met my winkel toe ry terwyl sy ma wou hê hy moes by die huis bly.

Daar is baie aande dat ek wakker lê en wonder hoekom ék nie maar in daai ongeluk gesterf het nie.

Die dronk jong is nou wel skuldig bevind, maar terwyl hy lekker op belastingbetalers se geld in die tronk lê, is daar niks wat my seun sal terugbring nie.

Oor die jare het ek met my vrou probeer praat, maar sy klap soos ’n boek toe.

Ons seuntjie se kamer is nog nét so soos die dag toe hy dood is en sy spandeer ure daar. Daar is baie aande dat sy daai kamerdeur sluit en daar slaap.

Ek weet sy vat dinge swaar. Ek weet sy sukkel om sy dood te verwerk, maar ek voel magteloos, want ek wil haar help.

Sy laat my egter nie toe nie.

Antie, ek en my ander twee kinders voel ook seer en voel ook die vermisting.

Ek wens net my vrou wil ons toelaat om as ’n gesin te rou en closure te kry.

My een dogter het al gesê haar ma voel soos ’n vreemdeling vir haar.

Dit laat die gevaarliggies by my flikker, want sy en haar ma was baie geheg aan mekaar.

Hoe deal ’n mens hiermee? Hoe kan ek haar help met haar seer wat ons as ’n familie ook sal laat heal? – Magtelose Pa, E-pos

Antie wil eerstens baie jammer sê vir jul verlies.

Dit maak nie saak hoeveel jare verbygaan nie, die pyn raak nie minder nie.

Oor tyd dalk wel minder seer, maar die gemis sal altyd daar wees.

Wat julle moes deurmaak, is wat geen ouer behoort deur te gaan nie.

So ’n gebeurtenis slaan jou as ouer plat.

Dit dreineer alle begeerte van jou om voort te gaan met die lewe.

Dit laat jou baie dinge question oor hoekom die lewe so wreed kon wees om ’n jong, onskuldige en sprankelende kind so te kon wegruk.

Dit laat ’n mens wonder oor hoekom jy kosbare oomblikke het van jou kind vir die eerste keer vashou, sien hoe hulle uit die kimbies groei en hul eerste kossies geniet, hul mylpaal van daai eerste treetjies... en dan slaan die dood toe...

Hoe hard en onregverdig die lewe ook soms kan wees, ons word egter elke dag genoop om voort te gaan met ons lewe en om die pyn saam met ons te dra.

En wat dit in jul geval nog belangriker maak, is dat daar twee ander kinders is wat hul mommy en daddy nodig het.

Ja, so sad soos wat dit is dat hul boetie nie meer daar is nie, is húlle steeds hier.

Húlle het julle steeds nodig om guidance te gee en hulle te help om met die vrees­like seer te deal.

Daar is geen datum waarop rou expire nie, maar daar kom ’n tyd dat ’n mens weer jou skouers reguit moet maak en met die lewe moet voortgaan.

Dis obviously makliker gesê as gedaan, maar met julle as haar anker, behoort dit haar smart ligter te maak.

Hier sal Antie baie beslis grief counselling voorstel.

Nie net vir julle as ’n paartjie nie, maar as ’n gesin waar jul kinders ook ’n uitlaatklep vir hul hartseer kan kry.

Nou moet jy net vroulief convince om dit nie net vir haarself nie, maar vir haar hele gesin te doen.

Antie hoop van harte dat julle ’n deurbraak sal maak.

Hierdie seer sal net minder eina word as julle as ’n gesin saam die storm van smart trotseer en ’n punt bereik waar julle met die seer sal kan deal.

Alle sterkte!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters