25 dae gelede
Vrou bly geheimsinnig oor ál haar geldsake
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

GELD is ’n groot probleem in ons huis.

Dit lei tot baie gestry tussen my en my vrou.

Antie, ons het albei goeie werke, maar ná sewe jaar van getroude lewe weet ek tot vandag toe nie hoeveel sy pay, of wat sy self met haar geld maak nie.

Ek het my eie besigheid en hoewel dinge maar moeilik was toe Covid en die lockdown op sy ergste was, doen die besigheid redelik goed.

Ek betaal die huis, ek en my vrou se karre, die kinders se skoolfooie, munisipale rekeninge en selfs die maand se groceries.

Al wat ek sien my vrou doen, is om so nou en dan vir die kinders klere te koop.

Verder boer sy in die salonne, of koop vir haarself elke maand nuwe outfits.

Ek dink nie dis fair nie. Uitgawes in ’n huwelik is mos iets wat van albei kante af moet kom, of hoe?

Ek het al met haar hieroor probeer praat, maar toe raak sy kwaad en storm die huis uit.

Later toe kom sy terug met hare wat uitgeblow is.

Is dit verkeerd van my om ’n idee te hê wat in my vrou se geldsake aangaan?

Hoekom moet ek ál een wees wat regstaan vir alles, terwyl sy jollification met haar salaris hou? Ontevrede, E-pos

Die huwelik was nog altyd ’n partnership. Nie net ’n romantiese een nie, maar ook met ’n besigheidsarm in terme van inkomstes en uitgawes.

Dis altyd ideaal om as ’n span saam te werk om wat ook al mikpunte in jul lewens en huwelik te behaal.

Wanneer dit gewoonlik by geldsake kom, speel man en vrou oop kaarte hieroor. Kyk, dis jul lewe. Die wêreld hoef nie te weet hoe jul bankbalanse lyk nie, maar vir mekaar behoort daar nie geheime te wees nie.

Dis tyd dat daar weer oor jul uitgawes besin word.

Omdat jy jou eie besigheid besit en dalk goed mag vaar, beteken dit nie dat jy die donkie moet wees wat alle uitgawes moet dra nie.

Niggie moenie net haar hare laat blow nie, maar darem ook van haar pennies in die rigting van jul uitgawes laat blow.

Kry haar aan’t stilsit (en nie weghardloop hairdresser toe nie) sodat julle kan discuss wie vir watter expenses in jul huis verantwoordelik gaan wees.

Liewe Antie Mona

EK EN DP is nou al ’n jaar saam.

Ek is 19 en hy is 27 jaar oud.

Antie, ons verhouding was nog altyd wonderlik en hy is ’n baie goeie outjie.

My ma-hulle was eers teen ons verhouding omdat hy ouer as ek is, maar het nou gesien dat hy regtig goed is vir my.

Ek is hierdie jaar in matriek en wil volgende jaar verder gaan studeer.

DP weet dit en support my.

Hy weet ook dat ek nie nou seks wil hê nie, want ek wil nie enigiets oorkom wat my toekoms kan jeopardise nie.

Daar sit my suster vandag nou nog by die huis van pregnant raak in matriek. Ek wil dit nie oorkom nie.

DP was baie understanding, maar in die laaste tyd bly hy skimp van ons verhouding verder vat.

Dinge het in die verlede so heated geraak dat ons amper die ding gedoen het, maar ek kon betyds alles stop.

Nou is dit eintlik ’n ander saak, want hy hou dik en ek weet nie meer hoe om vir hom nee te sê nie.

Laas naweek was hy kwaad vir my toe ons in sy kar sit en hy my boud begin vryf.

My een tjommie sê ek is oudtyds en dat almal dit deesdae doen. Sy sê niemand worry meer of jy ’n virgin is of nie.

Ek voel nie lekker as my outjie so kwaad is vir my nie. Anoniem, WhatsApp

Liefie, Antie hoop dat jy nou baie mooi vir my gaan luister.

Daar is niks “oudtyds” omtrent jou virginity nie. Genade, dit is so refreshing om in vandag se tyd te hoor van ’n jong meisie soos jy wat nie op jou drome wil compro­mise nie.

En nog ’n ding is natuurlik dat daar op hierdie oomblik geen waarborg is dat die ou met wie jy tans uitgaan, jou trouman gaan wees nie.

Ja, dit is so dat ’n ongewenste swangerskap ál jou drome deurmekaar kan krap.

Daar is jou suster ’n voorbeeld en soveel ander jong meisies wat vandag diep spyt is en vroegmôre by ’n kliniek met ’n pappe baba moet gaan staan.

Dít terwyl die pa lekker laat slaap, of al lankal die pad gevat het.

Wanneer dit by jou drome kom en wat jy alles in die lewe wil bereik, hoef jy nie te compromise nie.

En as jou outjie dit nie so kan sien en jou standpunt kan respekteer nie ... wel, dan is hy maybe nie so wonderlik soos wat jy nog altyd gedog het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters