2 maande gelede
Vrou betaal ‘sakgeld’ oor aan haar ouers
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET ’n wonderlike vrou, ’n tuisteskepper.

Antie, ons werk hard om die pot mooi aan die kook te hou.

Antie, ek betaal als wat my vrou nodig het en ons besluit saam hoe die fondse aangewend word.

Ek betaal elke maand R5 000 vir my vrou oor. Sy verdien dit om haarself te bederf of as sy geld benodig.

Antie, ek is nogal streng met geld oor ek swaar grootgeword het.

Onlangs vra ek my vrou om ’n betaling te doen wat ek later net weer aan haar sal betaal – net om te hoor sy’t nie geld nie.

Nou daai pla my toe en ek trek ’n staat, net om te sien die laaste 16 maande betaal sy dit vir haar ma oor.

Sonder om my skoonouers sleg te maak, maar albei werk nie oor hulle te goed is vir werk.

Antie, dit gaan nie watwonders daar nie, maar dis hul eie lewenskeuses se skuld.

Ek en vrou baklei nou lelik oor die storie. Ek voel sy het my bedrieg en eintlik help sy nie haar ouers uit die kwaad uit nie.

En sy het geweet ek sou dit stopsit. Antie, met my vrou se wete help ek ook haar ouers met petrol na ons toe en stuur hulle altyd terug met kos en vleis.

Ek weet dis my vrou se geld en sy kan seker doen met dit wat sy wil.

Maar hoekom voel ek so kwaad oor dit? Dis nie ons werk om vir haar ouers te sorg nie.

Dis ook ’n WhatsApp op my vrou se foon wat my laat ontplof het.

“Nou wanneer is jy van plan om die geld oor te plaas? Pa se rokies is klaar,” lees dit.

Ek moes amper vir my vrou ’n nuwe foon ook koop.

Is ek onredelik om so kwaad te wees, Antie? Ontevrede Man, e-pos

Dit is ’n blessing om in hierdie moeilike tye steeds in ’n finansiële posisie te wees waar jy hierdie vir jou vrou kan doen.

Daar moet egter gewaak word teen polisieman oor hierdie geld speel.

Ja, Antie verstaan dat jy swaar grootgeword het, maar jy moet ook verstaan dat geld nie alles in die lewe is nie.

Hoewel dit die lewe gerieflik kan maak, is dit nie ’n means om jouself te define nie.

Die redes oor hoekom jou skoon-ouers hulle in hul financial predicament bevind, is nie die punt nie.

Waarop jy moet let, is hoe jou vrou die afgelope 16 maande geld waarmee sy haarself kon bederf het, net so oorbetaal sodat haar ouers ’n bietjie gemaklik kan lewe.

Is dit nie ’n wonderlike ding vir ’n kind om vir haar ouers te doen nie? Vat dit nie ’n engel van ’n mens om só na die behoeftes van haar ouers om te sien nie?

Want sien, jou vrou sal nie vergeet nie dat daai einste ouers wat jy nou sien as die argitekte van hul eie ondergang, die mense is wat opofferings vir haar gemaak het. Sy is vandag die mens en vrou vir jou oor die sacrifices wat haar ouers gemaak het.

Natuurlik kon sy jou nie hiervan vertel nie, want sy is al lank genoeg met jou getroud om te weet hoe jy ’n gasket oor geld blaas.

En daar bewys jy haar toe reg! Moenie daai mens wees wat al lankal nie meer swaarkry, maar steeds klou aan die vrese vir armoede nie.

Jy sien dan nou hoe dit probleme in jou huwelik veroorsaak.

As dit so ’n groot probleem vir jou is, stop dan maar daai R5 000 wat jy elke maand vir jou vrou oorbetaal. Vat dan maar die geld en doen iets vir jouself daarmee.

Jy kan nie voorwaardes wil koppel aan iets wat jy veronderstel is om met ’n ope hart te gee nie.

Jy kan ook nie van haar verwag om haarself daarmee te bederf wetend dat haar ouers sukkel en sy kan iets daaraan doen nie.

Weerhou

Selfs al gebruik hulle dit vir rookgoed en wat ook al entertainment, jou vrou worry nie. Solank dit haar goed kan laat voel dat sy daar vir haar ouers kan wees in hul oomblikke van nood.

Moenie dat sy jou eendag blameer as haar ouers die dag sterf en sy voel jy het haar daarvan weerhou om iets vir hulle te doen nie.

Geen van ons vat eendag ons skatte saam graf toe nie.

Wat ons op hierdie aarde agterlaat, is memories van hoe ons almal rondom ons se lewens verryk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters