Verlede maand
‘Tjommie’ wurm hom in girl se lewe in met geld
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN ’n vriend ken mekaar al byna vier jaar lank.

Ek het ’n kind van ’n ander ou, maar ons is nie meer saam nie.

My kind is nou twee jaar oud. Die vriend wil in ’n verhouding wees met my. Hy pes my al hiervoor van die eerste jaar dat ons mekaar ken.

Ek het hom mooi aan die begin gesê ek sien nie kans vir ’n verhouding nie. My kind is nog te klein.

Maar hy het hom nie aan my woorde gesteur nie en steeds vir my kom kuier.

Toe my kind 4 maande oud was, het hy besluit om vir haar geld te stuur, want hy het gesien hoe swaar dit vir my is om my kind alleen groot te maak. Dit was ’n kans vir hom om in my lewe te kom.

Ek was nog nooit lelik of snaaks met hom nie. Ek het ook nie die goed geweier wat hy gekoop het nie, want ek het dit baie nodig gehad.

Maande daarna het hy elke tweede week vir die kind R500 gestuur en gesê hy het lief geraak vir my kind en dat sy vir hom soos sy eie voel.

Antie, ek het hom gesê as hy dit wil doen, is dit sy eie ding, maar ek wil nie in ’n verhouding wees met hom nie.

’n Jaar later het hy sommer aangeneem dat ons in ’n verhouding is.

Ek wou nie sy gevoelens seermaak nie, want ek het agtergekom dat hy nie normaal is nie.

Later het hy my begin verpes vir seks. Ek het gesê ons kan vriende wees, maar hy het vir almal vertel ons is in ’n verhouding.

Selfs vir sy kollegas het hy gesê dat ek sy meisie is.

Hy is baie suinig as dit kom by uithaal vir kos en sulke goed, maar baie oophand as dit kom by die koop van drank.

Hy het my al in so ’n hoek dat ek moet soebat vir geld by hom.

Hy gee my geen redes om hom te kan vat as ’n man nie.

As ons stry, moet ek ook gedurig hoor ek vreet hom uit.

Dan vloek hy my stink uit. Ek het nie meer krag vir dit nie.

Al sê ek vir hom hy moet wegbly van my af, doen hy dit nie.

Hy kom dan steeds na ons huis toe en maak asof daar niks fout is nie.

Hy is besig om my mal te maak en spite my met geld.

Ek het hom al gesê ek worry nie en hy moet sy geld hou, maar hy hou aan om dit vir my te stuur.

Hy weet ook watter tye ek geld die nodigste het. Het Antie raad vir my? – Raadop Meisie, WhatsApp

Liefie, jou oplossing is eintlik baie eenvoudiger as wat jy dink: Moet eenvoudig nie geld van hom vat nie.

Hy gebruik jou nood om by jou uit te kom.

Soos wat ek ook van jou brief aflei, moes jy ook al ’n hele paar keer saam met hom slaap sodat hy die geld kon gee wat jou kind nodig gehad het.

’n Man wat claim hy is lief vir jou met kind en al, sal jou mos nie vir seks afpers nie.

Hierdie is nie liefde nie, hierdie is die uitbuiting van jou omstandighede.

So, vat niks van hom nie. Maak nie saak hoe swaar dit gaan nie, kyk liewer om ’n ander way te maak.

Deur sy geld te vat, invite jy hom in jul lewens in.

As hy voortgaan om ’n las van homself te maak en jou begin dreig, sal jy ’n beskermingsbevel teen hom moet kry.

Jou situasie is vir hom die perfekte geleentheid om hom in jou lewe in te wurm. Verbreek alle kontak met hom en wys hom dat jy nie vir hom of sy geld nodig het nie.

Dis al hoe jy jou uit hierdie situasie gaan kry.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters