Verlede maand
Tjom is naar met my oor meisie my smaak
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS F van K en ek het twee baie goeie vriende.

Maar ons het ook ’n baie goeie probleem, Antie.

Daar is twee girls wat verlief is op my, maar my vriend is onder die indruk dat hulle op hóm verlief is.

Ek wil nie hê die girls moet tussen ons vriendskap kom nie, maar een van die girls is op my verlief.

Ons het op Facebook ontmoet, toe vra ek haar op ’n date waar sy haar vriend saamgebring het.

Ek slaap saans niks lekker nie, want my vriend is klaar vir my omdat ek verlief is op ’n girl wat hy nie wil hê nie.

Hoe maak ek my goeie vriendskap met hom reg? – F van K, WhatsApp

Antie verstaan nie hoekom jul vriendskap nou deur kwaaivriendskap gaan nie, want hy stel dan nie belang in die meisie op wie jy verlief is nie.

Of gaan dit hier oor jaloesie dat jy ’n girl het en hy nie?

Nie alle vriendskappe in hierdie lewe is supposed om te last nie.

As dié “vriend” nie vir jou onthalwe kan bly wees nie, dan wonder Antie of hierdie vriendskap enigsins die moeite werd is.

Dalk is dit die geval dat julle nie dieselfde waardes aan jul vriendskap heg nie.

Maar as jy die lug wil suiwer, kan jy natuurlik met hom hieroor probeer praat.

As hy steeds agterna met sy jaloesie wil dik hou, kan jy maar die vriendskap beëindig wetend dat jy jou bes probeer het om die tension tussen julle te probeer oplos.

Liewe Antie Mona

EK GAAN al amper 6 maande lank met hierdie ou uit. Hy het drie groot kinders. Maar nou hou die ma van die kinders nie van my nie.

Ek het nie kinders by hom nie, want hy het hom laat steriliseer en kan nou nie meer kinders maak nie.

Hoe maak ek nou?Ek is 25 en hy is 41 jaar oud. Bekommerd, WhatsApp

Sover Antie weet, kan ’n vasektomie amper altyd reverse word, maar dit waarborg nog nie sukses in die verwekking van nóg ’n kind nie.

Hierdie reversal kan probeer word selfs jare ná die aanvanklike vasektomie.

Maar hoe langer die tydsverloop is, hoe skraler raak die kanse dat ’n man weer ’n babatjie sal kan maak.

Al manier hoe hy natuurlik sal kan weet, is om ’n draai by sy GP of manskliniek te gaan maak waar hy antwoorde sal kry.

Dit is natuurlik net die helfte van jou probleem, want die ander drama in jou verhouding gaan nie verdwyn net omdat jy en hierdie man jul eie kind het nie.

Jy sien al klaar hoe die ander vrou perform en jou basies sien as die een wat haar kinders se pa weggerokkel het en van haar gesteel het.

Jy is nog jonk en daar is ’n ouderdomsverskil van 16 jaar tussen jou en hierdie man.

Dink jy dat ’n kind hom by jou gaan hou? Of jul verhouding gaan sement? Of die ander kind se ma stil gaan kry?

Dit is maar net Antie se mening en hoe ek dinge vir jou sien, maar op jou ouderdom behoort jy aan jou toekomsplanne te werk en nie gedagtes van winde uitvryf en kimbies omruil te hê nie.

’n Kind is anyway geen waarborg dat ’n man by jou sal bly en dat al jou problems soos mis voor die son sal verdamp nie.

Liewe Antie Mona

ANTIE sal nie glo hoe rustig my huis is noudat drank nie te koop is nie.

Ek sit nou weer met ’n wonderlike man, maar vrees weer die dag as drank te koop is.

Daar is dae dat ek bid dat drank eintlik nóóit weer verkoop moet word nie, want dit is regtig van die duiwel af. Gelukkige Vrou, Whats­App

Die wynbedryf is ’n baie belangrike sektor van ons ekonomie en derduisende mense se livelihoods is tans op ys weens die drankverbod.

Antie het nog altyd geglo dis nie drank wat die probleem is nie. Dit is eerder mense wat nie op ’n verantwoordelike wyse hul dop kan geniet nie.

Hier praat ek van daai mense wat so uit die wil uit raak as die dop begin trek.

Maar hopelik was hierdie droogte ’n eye-opener vir jou hubby en besluit hy om by die waterkar te hou, selfs al maak die poorte van die drankwinkels weer oop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters