26 dae gelede
Sy is huiwerig om my haar man te maak
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK GAAN sommer met die deur en die kosyn inval.

Ek kom uit twee vorige huwelike uit. Met my eerste vrou was ek sewe jaar getroud en vyf jaar met my tweede vrou.

In my eerste huwelik was ek baie lief vir my vrou, al het sy van die een man na die ander gegaan.

Dit het my gebreek dat sy eenvoudig nie aan ons huwelik wou werk nie.

In hierdie huwelik is ’n kind gebore wat my eers laat twyfel het, maar toe ek my kind in my arms vashou, het daardie twyfel verdwyn.

My tweede huwelik was ook maar ’n klug. Sy het met my getrou om wraak te neem.

Voor my eerste troue het ek en my tweede vrou ’n ding aangehad, maar ek het toe besluit om met die ander een te trou.

Toe ek met my eerste vrou trou, het sy en die ander een gereeld woorde gehad. Soveel so dat daar interdikte teen mekaar uitgehaal is. Ná my egskeiding het ek toe my eksmeisie gevra om te trou.

Die eerste twee jaar was goed, maar ná dit het my tweede vrou my kind wat ek by my eksvrou het, begin lelike name noem en my belet om my kind te sien.

Om die vrede te bewaar, het ek maar my afstand gehou, my kind skelm gesien en skelm vir my kind iets gekoop.

My tweede vrou het my bankstate bekom en my begin aanval oor dit wat ek vir my kind gekoop het.

Toe ek dinge nie meer kon verduur nie, het ek maar besluit om te skei. Ek het toe weer iemand ontmoet. Ons kom goed oor die weg en sy is ’n goeie ma vir my kind.

Ek het haar gevra om te trou, maar tot my skok het sy my ’n antwoord gegee wat my laat wonder of sy ooit met my wil trou, Antie.

Haar antwoord was dat ons nie haastig moet wees nie en eers ons tyd saam as ’n couple moet geniet.

Antie, ons albei is in ons 40’s en ek sien nie hoekom ons nog moet wag nie.

Ons albei kom uit verbrokkelde verhoudings.

Sy was nog nie getroud nie, maar was al verloof.

Sy wil ook nie ’n verloofring dra nie.

Sy sê ons moet wag, want die tyd is nie reg nie.

Aan die begin van die jaar het ek ’n geheim met haar gedeel wat ek die afgelope 13 jaar alleen gedra het: Ek is al vir 13 jaar MIV-positief.

Kan dit dalk die rede wees hoekom sy nie wil trou nie? – Anoniem, e-pos

Antie glo nie dis jou MIV-status wat haar reluctant maak om te trou nie. As dit die geval was, het sy lankal ’n lange uit hierdie verhouding gegooi.

Sy is ’n bietjie skrikkerig vir jou wat so met ’n vaart kansel toe beur. Antie mean maar, daar behoort regtig geen haas te wees nie.

Jy sien dan hoe twee huwelike nie gehou het nie.

Baie wat jou brief lees, sal wonder aan watter trou-kompetisie jy dan deelneem, want jy gee jouself nie tyd om perspektief te kry oor ’n mislukte huwelik nie en spring dan sommer in die ander een.

Hierdie vrou was al verloof. Sy weet hoe dit voel om iets kosbaars te verloor en wil absoluut seker maak voor sy commit. Gee haar die kans om dit te kan doen.

Haar ultimate bewys dat sy lief is vir jou is nie deur met jou te trou nie, maar om ten spyte van jou MIV-status steeds bereid te wees om ’n lewe met jou te bou.

Wat Antie egter ’n bietjie worry, is dat as my somme reg is, het jy in albei huwelike nooit jou eksvroue ingelig oor jou MIV-status nie.

Was hul gesondheid dan nooit belangrik om dit op te bring nie? Besef jy die impak op jou ekse se lewe?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters