Verlede maand
Swendelaar gaan ‘bid’ al my geld weg in berg
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS so verward en weet nie watter kant toe nie.

Aan die een kant wonder ek of dit nie maar beter sal wees as ek te sterwe kom nie.

Antie, dit het ’n paar maande baie swaar met my gegaan.

Ek het my werk verloor en op ’n dag loop ek toe iemand raak wat sê hy kan al my geldsake vir my uitsorteer.

Ek het aan die begin getwyfel, maar die ou was baie seker van sy saak.

Hy het ’n duur kar gery en was kwaai aangetrek. Ek het gedink ek verdien dit mos darem ook een keer in my lewe om so ’n lifestyle te leef.

Ek het toe die hele R450 000 van my pensioen onttrek. Jirre Antie, die mense by die bank het my nog oor en oor gevra of ek seker is en of ek nie eers vir ’n paar dae hieroor wil dink nie.

Maar ek wou niks weet nie. TJ, die ou wat ek ontmoet het, het gesê hy kan lag-lag die geld tot by R4,5 miljoen vermeerder.

Hy sou net ’n paar dae in die berge gaan bid en sy ancestors vra om my te bless, dan sou hy terugkom.

Dis nou al meer as ’n maand later en TJ het nog nie uitgesteek nie. Ek was na sy winkel, maar hy is nie meer daar nie. Daar is iemand anders wat skaars Afrikaans of Engels kan praat.

Ek was ook polisiestasie toe, maar hulle sê hul hande is afgekap want hy het my nie forseer om die geld vir hom te gee nie.

En deur al dié drama wonder ek wat my vrou gaan sê as sy hiervan moet uitvind. Vir haar het ek gesê ek het die geld vas belê.

Sy werk nog en begin nou vrae vra oor watter beleggings dié dan is wat nie vir my ’n maandelikse opbrengs gee nie. So, dis net ’n kwessie van tyd voordat die bom bars en sy my in alle waarskynlikheid uit die huis gaan uitsmyt.

Ek lê die nagte om en worstel met dié ding. Dit voel asof ek my kop teen ’n muur kan stukkend slaan.

As ek net die geld vir ’n privaat speurder gehad het, kon ek dalk nog die ou opgespoor het.

Maar soos wat dinge nóú lyk, is dit net ’n kwessie van tyd voordat my vrou uitvind wat gebeur het. Verpletter, WhatsApp

Niemand in die lewe kan vir jou meer rente in die sak bring as die bietjies wat banke en reputable finansiële instellings jou bied nie. Dié geld sal nooit soveel wees dat jy die buurman kan raak van die Bill Gates’e van die lewe nie.

Daar is geen wonder-olie wat jy aan jou bankkaart moet smeer of ’n spesiale plek op ’n berg waar jou finansiële blessings los gebid kan word nie.

Dié swendelaar het jou begeertes uitgebuit en daar is hy nou vort na ’n ander gedeelte van die land om dieselfde truuk in ’n ander sirkus te gaan try.

Die skrif is aan die muur wat jou uurglas betref. Jou vrou gaan nie maand ná maand wonder hoekom is jy dan so platsak nie. Sy gaan een van die dae op die waarheid begin aandring.

Dink jy nie dit sal beter wees as jy op jou eie die beans spill nie? Kwaad en teleurgesteld gaan sy wees, maar dit gaan soveel erger wees as sy uitvind dat jy al ’n geruime tyd die waarheid van haar weerhou.

Sit intussen die cops in die skool. Dis ’n bedrogsaak en hulle moet dit vat. Moenie dat hulle jou óók scam met hul lui gedagtes nie.

Liewe Antie Mona

EK EN my girl kom al ’n mooi klompie jare aan.

Voor daai tyd was ek bymekaar met iemand anders en ons het ’n kind saam. Die dogtertjie raak in November vyf jaar oud.

Die girl wat ek nou het, Antie, gun niks vir my meisiekind nie.

Ek mag nie klere of lekkers koop nie, dan swel haar wange. Ek en sy het nie kinders saam nie en ek weet nie of dít die issue is wat haar so laat perform nie.

Ons woon saam, maar as sy so aangaan, gaan bly ek sommer vir ’n paar dae by my ma.

Ek is lief vir haar, maar ek begin nou twyfel of sy iemand is met wie ek die res van my lewe sal wil spend. Hartseer Pa, Whats­App

Dié meisie van jou sal moet regkom, want met daai bollewange-attitude van haar gaan sy jou verloor.

Dit is jou kind en jy het die reg om haar te bederf net soos wat jy lus het. Watter daddy word anyway nie deur sy dogter om haar pinkie gedraai nie?

Dit is soos jy sê: As sy nóú al so is met jou kind, hoe gaan sy nie wees die dag as sy ’n getroude mêrrim is nie?

Antie wil nie hê jy moet net broei oor die saak nie. Daar is issues in jul verhouding waarrondom julle dans. En dié issues verdwyn nie elke keer as jy vir ’n paar dae uittrek en by jou ma gaan bly nie.

As jy anyway eendag met die meisie trou, sal jy nie sommer net kan oppak en iewers anders ’n break gaan vat nie. Dis tyd dat julle gaan sit en head-on die probleme in jul verhouding takel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters