Verlede maand
Stiefdogter beswadder my naam by haar ma
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK BLY in ’n klein dorpie in die Wes-Kaap en is getroud met die lieflikste, bedagsaamste vroutjie op moederaarde.

Of so het ek gedink. Ons het ’n dogter saam en my vrou het ’n dogter uit ’n vorige verhouding.

Ek het haar dogter grootgemaak soos my eie, haar klaar laat studeer en haar alles gegee wat ek kon.

Deesdae het sy die manier of houding om my diep seer te maak deur my te beledig of sleg te maak by haar ma. En die seerste van alles is dat my vrou alles glo wat haar dogter vir haar sê.

Sy glo my nie. Haar dogter is 30 en het self ’n kind – wat ek óók as my eie grootgemaak het.

My vrou sal my selfs uitsluit of nie kos of water gee nie. Dít terwyl ek ’n goeie salaris ontvang en sy ’n skrale een.

Ek is baie lief vir my vrou en dogters, maar het nou genoeg gehad van al die seer.

Die stiefdogter verdien ook goed, maar het nog nie eens ’n R10 kosgeld gegee of krag gekoop nie en steeds is sy die queen in my vrou se oë.

Ek het regtig genoeg gehad en sien nie meer ’n pad met my vrou nie. Ek kan nie beskryf hoe bitterlik seer ek op die oomblik voel nie. – Hartseer, WhatsApp

Ai, weet jy, dit sou baie gehelp het as jy bietjie kon uitgewei het oor die “liegstories” wat jou stiefdogter haar ma vertel van jou. Ons kan mos nie raai-raai speel nie.

Geen situasie is onmoontlik om omgekeer te word nie. Dinge lyk dalk nou asof dit nie kan verander nie, maar pleks van net die handdoek ingooi, sal Antie voorstel jy fight om die haakplekke uitgestryk te kry.

En maybe is dit ook tyd dat hierdie dogter uittrek en haar eie heil vind in die lewe.

Sy is ’n volwasse vrou, verdien ’n goeie salaris en behoort ’n plekkie van haar eie te kry.

Dit behoort dan vir jou en jou vrou die ruimte te bied om deur jul issues te werk.

Ongelukkig bevind jou vrou haar nou eers in die moeilike posisie waar sy moet kies tussen haar man en haar kind.

Niemand wil in so ’n posisie wees nie en weens jou skrapse info kan daar nie eens afgelei word wat jou stiefdogter motiveer om so naar te wees nie.

Antie kan maar net suspect dat dit nogal heavy moet wees as jou vrou jou, die broodwinner, uit jul huis sluit.

Kommunikasie is hier die key. Julle is albei grootmense en behoort hierdie ding uit te praat.

Om op te pak en ’n lange te gooi, behoort jou heel, heel laaste opsie te wees.

Liewe Antie Mona

MY MAN is baie dood en wil basies nêrens gaan nie.

Ek moet hom altyd soebat om iewers na toe te gaan – selfs na sy eie familie toe.

Hy gaan net werk toe en lê daarna by die huis en movies kyk.

Jinne, ek moet hom dan selfs soebat vir seks, want hy bly moeg.

Ek kan nie glo dat ek getroud moet wees met ’n man wat so gevrek is nie. Wat kan ek doen? – Moedeloos, WhatsApp

Dit klink maar asof jy die leiding moet neem met voorstelle oor hoe julle minder van ’n boring huislewe vol roetine kan hê.

Met Antie Covida en die duur petrolprys wat ook saam wil travel is dit ook nie meer so eenvoudig soos in die verlede om “iewers heen te gaan” nie.

Daar is niks daarmee verkeerd om te kyk of jy die atmosfeer by die huis kan opkikker met ’n kuier dáár nie. Nooi ’n paar gemeenskaplike vriende oor.

Dis mos lekker om in die gemak van jou eie huis lekker tye en lekker memories te bou.

Liewe Antie Mona

EK IS ’n 49-jarige Coloured vrou en op soek na ’n hardwerkende, eerlike mansmens.

Hy moet net my vriend wees, Antie. Antie kan my nommer vir hom gee, want ek WhatsApp nie.

Ek is finansieel nie stabiel nie en werk nie op die oomblik nie.

Ek het deur baie in die lewe gegaan en wil nou net rustig wees. – Op Soek Na Liefde, SMS

Vrou, vandag se manne bring maar min rustigheid.

Daar is veels te veel wolwe, pretenders en uitvreters onder hulle.

Soms kan Antie nie anders as om te wonder of ál die goeies nie reeds opgeraap is nie.

Maar kom ons kyk maar of daar een of twee is wat van hulle gaan laat hoor.

Jy moet onthou dat jy ook nie ’n man nodig het om rustigheid in jou lewe te bring nie.

Vreugde en ’n lus vir die lewe kom van binne jouself en met alles wat jy al moes deurmaak, glo ek nie jy is lus om weer met ’n nar opgeskeep te sit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters