Verlede maand
Skelmpie drop my en gaan aan met lewe
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my skelmpie kom al drie jaar lank aan.

Ons het ’n understanding – ek kry wat ek wil hê, en ek koop vir haar alles wat sy wil hê.

Ek moet sê dat dinge goed geloop het. Ek werk baie kere uitstedig, so my vrou vermoed niks nie.

My vrou worry anyway nie, want sy het nog altyd alles gekry wat haar hart begeer.

Antie, aan die begin het ek sleg gevoel oor dit wat ek aan haar en die kinders doen, maar ek is oor dit.

My vrou stel nie veel in seks belang nie. Ek kry maar baie min en as ek iets kry, dan wil sy so stil lê soos Jan van Riebeeck se standbeeld.

Ek is ’n warmbloedige man met behoeftes wat bevredig moet word.

Die plan is nie om ooit te skei nie, so ek kan nie sien hoekom dit wat ek doen, verkeerd is nie.

Met die lockdown het my besigheid ’n dip gevat en ek kon nie so baie aandag aan Skelmpie gee of selfs vir haar gaan kuier nie.

Noudat my besigheid weer optel, is sy dan nou skaars. Sy beantwoord nie my WhatsApps nie.

Ek het toe maar rondgevra en uitgevind dat sy nou in ’n ernstige verhouding is.

Hierdie is nou die stank vir dank wat ek kry ná alles wat ek vir haar gedoen het.

Ek het selfs vir haar ’n kar vir haar en haar kind se gebruik gekoop.

Die kind se skoolfondse het ek betaal en ook seker gemaak dat hulle lekker eet.

Ek is die een wat nou in die bed honger ly en sy beweeg aan?

Dink Antie ek moet die kar terugvat? Ek is seker as daai ou moet uitvind waarmee sy besig was, sal hy haar los. Mr. F, e-pos

Maar my jinne! Sal jy dan nou jealous staan en wees en dit oor ’n skelmpie wat aanbeweeg het?

Jy wat geen gewete het oor die way hoe jy jou vrou vir jare al verneuk nie?

Antie het dit al male sonder tal gesê: Daar is géén verskoning vir egbreuk nie.

As jy ongelukkig is oor die load­ shedding wat jy in die slaapkamer ondervind, sort dit dan met jou vrou uit.

Genade, as seks vir jou so belangrik soos botter op jou brood is, kan jy selfs skei en dan vir jou ’n sekspop aanskaf.

Maar skei sal jy natuurlik nie wil nie, want dan fly die helfte van jou besittings as julle binne gemeenskap van goedere getroud is.

Dit wil klink asof jou skelmpie gedurende die lockdown ’n gewete gekweek en besluit het jy en jou geskenke is nie worth dit nie.

Gun haar tog haar geluk.

As jy in ’n stryd oor ’n voertuig betrokke wil raak, gaan dit anyway jou dinge ook expose.

Maar dalk sal dit goed wees as jou vrou vir ’n slag uitvind wat jy alles ry in die naam van uitstedig werk. En hier praat Antie nou nie net van voertuie nie.

Liewe Antie Mona

EK IS ’n jong ma van twee kinders.

Ek het ’n jaar of so gelede met hul pa opgebreek.

Antie sien, ek is eintlik les.

Voordat ek my kinders se pa ontmoet het, was ek met ’n ander girl deurmekaar.

Ons moes opbreek omdat my ouers nie daarvan gehou het dat ek met ’n ander meisie deurmekaar is nie.

My ouers is nou dood en ek voel om met my lewe aan te gaan.

Die probleem is dat my eks-meisie al aanbeweeg het en nou saam met iemand bly.

Sy is nog kwaad dat ek nie destyds vir haar gefight het nie.

Moet ek nou fight vir haar?

Ek is nog lief vir haar en glo sy voel dieselfde. – Lady J, SMS

Hulle sê mos daar is g’n keer aan gedane sake­ nie.

Dalk is dit tyd om die verlede maar in die verlede te los en aan te beweeg.

’n Belangrike les wat jy geleer het, is dat ’n mens true aan jouself moet bly, maak nie saak hoe moeilik dit is nie.

Dit is nie maklik om jouself te wees en jou seksuele voorkeure uit te leef in ’n society wat altyd gereed staan om jou te veroordeel nie.

Baie mense is haastig om jou met Bybelversies dood te slaan, maar vergeet dan conveniently van die balke in hul eie oë wat skrou om aandag te kry.

As daar iemand spesiaals bestem is vir jou in hierdie wêreld, sal jul paaie wel kruis.

Vir nou is dit belangrik om te groei in jou acceptance van jouself en jou voorkeure, en natuurlik baie belangrik – om na jou kids om te sien.

Hierdie meisie het aanbeweeg en as sy en haar partner saambly, beteken dit hulle is in ’n serious verhouding – een waaruit jy maar seriously moet bly.

Sy het iemand nodig gehad wat by haar sou staan en in daardie stadium was dit ongelukkig nie jy nie, Lady J.

Dit beteken egter nie dat geluk ook nie eendag vir jou beskore sal wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters