Verlede maand
Plan met ons pensions backfire toe nou lelik
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

DAAR is ’n girl wat ek smaak, maar ek is nie seker of dit ’n goeie ding is nie.

Sy is vriendelik met almal en daar loop baie stories oor haar rond.

Sy het ook ’n kind. Ek het nie enige kinders nie, Antie.

Ek eye haar nou al ’n hele ruk, maar ek is bang oor wat die mense gaan sê.

Dink Antie ek moet ’n kans vat? Ek hou nogal van haar. JK van S, WhatsApp

As jy rêrig van haar hou, sal jy jou nie aan ander se bekverkopery steur nie. Ook nie aan die feit dat sy reeds ’n kind het nie.

Tensy jy natuurlik net agter een ding aan is, maar bang is die mense vind uit van jou dinge.

Daar is niks daarmee verkeerd as sy vriendelik met mense is nie. Vriendelikheid is haar medisyne teen die valsheid van ander.

Los haar maar af as jy jou laat opmaak deur ander se stories.

Liewe Antie Mona

DINGE het laas jaar maar swaar gegaan en ek en my man het toe geskei sodat ons toegang tot ons pen­sion funds kon hê.

Ons besluit was uit en uit ’n finansiële een, Antie. Die plan was om ál ons skulde te betaal en dan weer ná ’n tyd te trou.

Ons wou net weer ’n slag asem haal, sonder die konstante bellery van skuldeisers.

Weet Antie hoe moeg daai mense ’n mens kan maak?

Hulle bel jou die onmoontlikste tye en baie van hulle weet nie hoe om met ’n mens te praat nie.

Anyway, dit was my man wat met die idee opgekom het dat ons op hierdie wyse ál ons geldelike probleme kan beëindig.

Ons het besluit om dinge in die geheim te doen en vir niemand hiervan te vertel nie.

Tot hierdie uur weet ons kinders en die res van ons families nie eens dat ons geskei is nie.

Toe die gelde uiteindelik loskom, was dit omtrént ’n mission om my man by die plan te laat hou.

Antie, waar sy pelle hom vantevore begin afskeep het oor hy nie met hul geld kon byhou nie, was hulle skielik soos brommers om hom.

My man het die een ná die ander paartie vir sy vriende gegooi. Hy was kwaad vir my, maar ek het my hardegat gehou en gesorg dat ons die meeste van ons groot skulde betaal.

Dit gaan nou finansieel baie beter, maar my man is steeds die paartie-animal.

Hy wil ook nou niks verstaan van weer trou nie en sê hy geniet nou die jong dae wat hy nooit gehad het nie, want ons het baie jonk getrou.

Naweke is hy nou kaatjie van die baan. Dis Covid daar buite en oralste, maar hy steur hom nie daaraan nie.

Dit voel of ek nie meer my man ken nie. Ek skel en dreig, maar hy hoor eenvoudig net nie.

Naweke is hy witweg saam met sy vriende en ek moet dan soos kiepie by die huis sit. Diep Ongelukkig, WhatsApp

Weet jy, vrou, dis mos ’n anderste sight as Ryk Mister Kaalgat aan die paartie raak. Dan moet ál wat pel is, ge-entertain word. Dieselfde vriende wat nêrens te vinde was toe hy in die nood was nie. Mooiweersvriende wat weer pad gaan vat die dag as ál die geld op is.

Daar is baie couples wat deesdae hierdie roete gaan om ’n bietjie financial breathing space te kry.

Antie is nie ’n groot fên van dit nie, want aan die einde van die dag affekteer so ’n besluit die finansiële gesondheid van jou oudag.

Vir baie kan dit egter werk as hulle gedissiplineerd is en alle skuld afbetaal, soos vooraf ooreengekom. Maar Antie reken toe jou man ál die nulle in sy bankbalans sien, toe kry hy valse dollar signs in die oë.

En nou sit jy met ’n man opgeskeep wat hom jonk hou en dom genoeg is om nie deur sy valse vriende te kan sien nie.

Jy sal egter brieke moet aanslaan by hierdie partytjie-giere van hom voordat julle jul weereens in ’n benarde posisie bevind.

Nét so “hardegat” soos wat jy was toe jy jou vrou gestaan het by die betaling van die skuld, so sal jy nou weer moet wees.

En hy sal moet kom explain wat sy plan is. Is julle nou undercover getroud, maar nie legally nie?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters