6 dae gelede
Pandemie keer nie man se paartie-gewoontes
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WIL vandag hê Antie moet my asseblief raad gee, want só kan dinge nie aangaan nie.

My man is ’n party animal. Nie eens die harde lockdown kon hom keer nie.

Toe die drankwinkels toe was, het hy eenvoudig ’n way gemaak, maak nie saak hoe duur die drank was nie. En noudat die dopshops weer soort van normaal operate, is dit aan in Japan.

Antie, my man rus nie naweke nie. Dis ’n gesuip van Vrydagmiddag as hy uit die werk kom tot laat Sondagaand toe.

Maandae gaan hy so siek soos ’n hond werk toe. As hy die middag uit die werk kom, moet sy kop geskiet word.

Woensdag is dit klein naweek en sy verskoning vir Donderdae drink, is dat hy die naweek wil sagmaak.

Eintlik is my man net een keer ’n week nugter en dis die Dinsdag. Ek kan net nie uitfigure hoekom hy nie Dinsdae drink nie.

Dit gaan al jare só. Ek kan nie onthou wanneer ek vir ’n maand of selfs ’n week lank langs ’n nugter man geslaap het nie.

En natuurlik as hy so gedop is, wil hy saans die lastigste in die bed wees.

Ek het egter al ’n way uitgevind om hom in toom te hou. My man se gedrag pla my baie. Hy sal nie vir homself eens ’n sokkie of onderbroek koop nie. Als moet gaan vir drank, sigarette en om vriende te entertain.

Van sy vriende gepraat, hulle is soos huiskinders hier by ons. Almal stroom naweke hierheen, maar daar word nie by hul huise gekuier nie.

Ek is moeg, Antie! Moeg! Ek praat mooi, skel, vloek, dreig om uit die huwelik te stap, maar my man is net as aan.

Moenie ’n fout maak nie, hy het sy goeie punte. Ek kan net nie verstaan hoekom hy so sy lewe moet wegdrink nie.

Ons kan nooit iewers heen gaan nie, want hy bly dronk. As my familie kom kuier, dan is hy dronk. My kerkmense moet ook maar wegbly, want hy het altyd iets te sê as hulle hier kom.

Moenie dat ek hom sê hy het ’n drankprobleem nie, dan lyk dit die man wil ontplof.

Sukkel ander vroue ook so?

Ek dink nie ek is die enigste vrou wat so ’n struggle het nie. – Moedelose Vrou, WhatsApp

Wat noem ’n mens dan iemand wat net vir een dag van die week nie drink nie? ’n Driekwart drinker?

Daar’s niks fout met iemand wat sy of haar drankie op ’n verantwoordelike wyse geniet nie.

In jou man se geval blyk dit egter dat hy heeltemal oorboord gaan en altyd op die uitkyk is vir ’n rede om te drink – behalwe Dinsdae, natuurlik.

Daar as soveel meer wat hy met sy geld kan doen. As jy mooi daaraan dink, pie hy eintlik maar die geld uit waarvoor hy so hard gewerk het.

Siende dat hy nou so stram trek oor sy drankgewoonte en dit veral sy naweke oorheers, sal jy moet opkom met dinge om hom mee besig te hou.

Reël vir jou gesin trippies weg van die huis – selfs al gaan ry julle net die dag iewers heen. Pet­rol is duur, maar darem nog goedkoper as drank.

Betrek hom sover by die gesinsaktiwiteite. Moan gaan hy natuurlik moan, maar jy sal net sterk moet wees.

Iewers op ’n kol sal kwaadrakens ook nie meer help as dit by sy drinkgewoontes kom nie.

Iewers op ’n kol sal hy moet admit dat hy ’n probleem het waaroor hy net Dinsdae beheer het. Ongelukkig is dit slegs dán dat die bereidwilligheid daar sal wees om by ’n rehabilitasieprogram in te skakel.

G’n mens kan sy lewe so om drink nie en dis net ’n kwessie van tyd voor die lewer en ander organe ook gaan protesteer en problems gaan gee.

Liewe Antie Mona

HOE vra ’n mens ’n girl uit?

Ek weet die vraag klink dalk stupid, maar daar is hierdie meisie wat ek regtig likes.

Dis net – elke keer as ek haar sien en ons groet mekaar, dan het ek nie woorde nie.

Ek wil so graag vir haar sê ek likes haar, maar ek weet nie hoe nie. – Diep Skaam, WhatsApp

Liefie, jou probleem is glad nie “simpel” nie. Glo dit of nie, dit kom vir baie nie natural om met die teenoorgestelde geslag te praat nie. Jy begin hakkel en sweet sommer uit jou kopvel uit soos iemand wat chillies geëet het.

Practice makes perfect. So, next time as jy dié meisie sien, probeer ontspan en hou die gesprek so lig moontlik. Laat sy die gesprek lei en jy val net in.

Later, as jy comfy begin raak, sal die vrymoedigheid kom om hartsake aan te roer. Om skaam te wees is eintlik nie iets om oor skaam te wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters