Verlede maand
Paartjies moet eerder self probleme try oplos
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my vrou is hierdie jaar 22 jaar getroud en nes ander couples het ons ook maar ons ups and downs.

Wat vir my baie opvallend is van die briewe in Antie se rubriek, is hoe couples nie hul geskille kan oplos nie.

Hulle kla by almal, eerder as om die issues self onder mekaar te bespreek en uit te sort.

Seks is veral ’n topic wat tot groot ongelukkigheid in huwelike lei. Daar is diegene wat te veel kry en dan is daar baie wat veels te min kry.

Hierdie gevoelens van frustrasie hieroor word nie met hul partners bespreek nie. Dit raak ander mense se besigheid.

Dit is glad nie nodig dat die hele wêreld hoef te weet dat jy so min kry nie.

Ek is seker as jy jou kwelpunt met jou vrou of partner bespreek, kan julle saam ’n oplossing vind.

Ek en my vrou sit nie aldag om dieselfde vuur nie, maar ons probeer om altyd ’n oplossing te kry en seker te maak ons geskil kom nie tussen ons nie. Gelukkige Hubby, E-pos

Antie is bly julle het ’n stelsel in jul huwelik wat vir julle werk.

Ongelukkig kan nie almal oplossings vir hul konflik vind nie.

Moenie ’n fout maak nie, diegene wat byvoorbeeld oor seks kla, hardloop nie sommer reguit na Antie toe nie.

Uit baie van hierdie briewe sal jy oplet dis meestal uit desperaatheid oor hulle nie die situasie kon ontlont nie.

Daar is veral baie mans, so het Antie nou al oor die jare agtergekom, wat selfs al bang is om die onderwerp aan te roer.

Hulle hoor goed soos: “Ek is nie jou seksmasjien nie” en “Hoekom gaan kry jy nie vir jou ’n hoer nie?”

Kan jy imagine hoe seergemaak ’n man oor sulke re­sponses kan voel?

Elke situasie verskil. Geen huwelik is immers dieselfde nie.

Maar Antie hou voet by stuk: Die pad na ’n man se hart het nog nooit deur sy maag geloop nie – selfs al kyk ’n mens sommige mans met boepe baie kere met daai gedagte aan.

Die pad na ’n man se hart loop deur sy hart en die gevoelens wat hy ook het wat dalk gruwelik afgeskeep word.

Antie is baiekeer hard op mans. Maar nie alle mans is dieselfde nie.

Daar is mans wat beter verdien en daar is vroue wat nou nog in hul hande huil dat hulle so ’n man deur hul vingers laat glip en nie waardeer het nie.

Die sake van die slaapkamer is maar net één van die elemente van ’n huwelik waar dinge lelik skeef kan loop.

Liewe Antie Mona

MY KIND het matriek baie mooi geslaag en wil graag verder gaan leer.

Ongelukkig het sy nie vroeër by ’n universiteit aansoek gedoen nie, want sy wou eers seker maak sy slaag.

Nou sit sy en worry oor haar toekoms.

Ek probeer haar help om iewers in te kom, maar dis nogal ’n groot gesukkel.

Weet Antie dalk hoe ons die saak kan aanvat?

My kind wil nie soos haar vriende by die huis sit nie. Sy wil iets met haar lewe doen.

Ons is nie skatryk nie, maar sal haar help waar ons kan. – Bekommerde Ouer

Baie mense besef ongelukkig nie die beplanning van jou toekoms begin nie in matriek nie.

Van kleins af droom ons mos maar oor wat ons eendag in die lewe wil wees.

Baie van hierdie beplande loopbane raak oor die jare langs die pad weg, maar dié waarin ons maybe kan uitblink, stap die hoërskool-pad saam met ons.

Antie reken dis nou te laat vir universiteitstoelating. Dit boggle maar hierdie ou mind van my hoekom kinders eers wil wag om te kyk hoe hul punte lyk voordat hulle aansoek doen.

Dit is eerstens belangrik om te kyk in watter kursusse jou dogter belangstel, wat die vereistes vir so ’n kursus is en wie hierdie kursusse aanbied.

As sy dit kan doen by iets soos ’n TVET-kollege, is daar dalk nog ’n openinkie om dit te doen.

Julle sal egter moet rondbel dat dit klap om uit te vind of daar nog openinge is.

As sy byvoorbeeld so ’n kursus net aan ’n universiteit kan doen, sal julle ongelukkig tot volgende jaar moet wag. Maak seker sy voldoen aan die vereistes en doen vroeg aansoek.

Wat finansies betref, is dit deesdae nie meer so ’n pyn soos vroeër jare nie. Om arm te wees is deesdae nie ’n verskoning nie, want daar is baie beursgeleenthede, soos byvoorbeeld NSFAS, waarvoor jy kan aansoek doen.

Kom ons hou duim vas jou dogter sal hierdie keer haastiger met haar toekomsplanne wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters