Verlede maand
Pa wil klong sue wat sy dogter op paal sit
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK SOEK raad, want ’n 17-jarige skoolseun het my 18-jarige dogter swanger gemaak.

Hy het my vrou met sy mooi maniere geflous en sy het hom vertrou.

Maar ek het hom altyd weggejaag as ek by die huis was, want hy is oor die 2 m lank terwyl my dogter maar 1,47 m lank is.

Dit het hom egter nie gepla nie. Hy het ook geweet sy ma werk nie en sy stiefpa kry maar so nou en dan kontrakwerk.

Sy ma kry net ’n kindertoelaag vir hom en sy tienjarige sustertjie.

Sy ma en stiefpa was net een keer by ons huis om te sê hulle wil graag hê die seun, wat nou in graad 11 is, moet skool klaar maak en hulle sal support gee vir die baba.

Maar hul seun het my matriek dogter se skoolloopbaan opgemors en ek en my vrou is nie lekker daaroor nie.

Hulle kom nou nie eens meer na ons huis toe om te hoor hoe dit nog gaan met my dogter, wat nou al amper ses maande in die ander tyd is nie.

So, wat kan ek maak, want ek gaan nie dinge so los nie.

Ek wil eers hoor wat Antie se raad is voordat ek die seun hof toe sleep. Ontevrede Pa van die Elsies

Antie verstaan jou woede en teleurstelling, maar hierdie is iets waaroor jy nou kalm moet wees.

Ek kry die idee dat jy meer bekommerd is oor hierdie seun se lengte, maar daar is ander dinge wat ook aandag moet geniet.

As ouers en grootouers moet ons nie naïef wees nie.

Vandag se kinders is meer blootgestel aan seks en die kanse om dit te beoefen. En maak nie saak wat ons doen nie, as hulle dit wil doen, gaan hulle ’n way vind om dit te doen.

Ons kan ons kinders nie vir altyd in die huis toesluit en net allow om skool toe te gaan nie – maak nie saak hoe graag ons hulle wil beskerm teen al die dinge wat daar buite woed nie.

Jou dogter is swanger. Dis klaar wat dit so is. Daar is ’n baby op pad.

Maar hierdie is nie die einde van jou dogter óf hierdie seun se toekoms nie.

As die ouers in die prentjie, behoort julle en die seun se ouers bymekaar te kom en die pad vorentoe te bespreek.

Vat die inisiatief. Moenie wag vir die ander ouers om finally wakker te skrik nie. Wie weet, dalk het die hele affêre hulle ook so onkant gevang dat hulle nie weet hoe om hiermee te deal nie.

Vat dus die leiding om te verseker dat jul dogter ten spyte van die komende moederskap, steeds ’n toekoms het om aan te werk.

’n Hofsaak gaan niks aan die saak verander nie. Met die baba wat op pad is, is hierdie seun deel van jul lewe – of jy nou daarvan hou of nie.

Moet ook nie vergeet dat hy nie hierdie kind alleen en op sy eie verwek het nie.

Dit is moeilik, want jy het soveel drome en verwagtinge vir jou dogter gekoester. Maar besef dat alles nie verlore is nie.

Daar’s baie vroue in hierdie lewe wat as tienermeisies swanger geraak het en steeds ’n sukses van hul lewe gemaak het.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters