2 maande gelede
Ouma speel vuil nadat sus kleinkind versorg
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS L van MP en wil graag Antie se mening oor ’n saak hoor.Twee jaar gelede het ’n vrou my suster genader. Hierdie vrou se dogter was op drugs.

Sy het reeds drie kinders gehad en was swanger met haar vierde kind.

Sy het my suster gevra om haar te help met die baba wat haar dogter verwag het. My suster het ingestem solank as wat alles deur ’n social worker gedoen word. Sy is toe saam met die ouma na ’n social worker.

’n Paar maande later is die seuntjie gebore. Sy ma het hom net so in die hospitaal gelos en geloop.

Die ouma het die seuntjie by die hospitaal gaan haal en by my suster gaan drop.

Die social worker het my suster gehelp om die kind se geboorte te registreer en aansoek te doen vir ’n kindertoelaag.

Hierdie kind was by my suster vandat hy twee weke oud was. Die ouma het net twee, drie keer kimbies gebring.

Tydens een van hierdie besoeke het sy gesê die kind is baie lelik. Hoe kan ’n mens só iets aan ’n kind sê wat nie gevra het om hier te wees nie?

In Desember van daardie jaar word sy ma toe doodgeskiet. In Januarie begin die ouma my suster te pla.

Eers wou sy net Saterdae die kind hê. Toe naweke.

Die social worker het gesê die ouma is geregtig daarop om die kind te sien omdat sy die biologiese ouma is.

Op ’n dag is my suster geroep vir ’n meeting met die social worker, dié se superior en die ouma.

Die ouma het die social worker gaan verkla en aangevoer dat sy my suster voortrek.

Die superior sê toe die ouma moet voorkeur kry as dit by die toesig van die kind kom – dit nadat die kind al amper ’n jaar in my suster se sorg was.

Nou weier die ouma dat my suster die kind sien. As my suster bel, is die ouma vol verskonings.

Dit was nou onlangs die kind se tweede verjaardag en my suster kon hom nie eens sien nie.

Wat staan ons nou te doen, Antie? Gee ons raad, asseblief. L van MP, WhatsApp

Antie voel dit vir jou suster wat hierdie kindjie ingeneem het, lief geraak het vir hom en nou behandel word asof sy die stranger in die verhaal is.

Ongelukkig is ons wette wat kinders betref geneig om bloedfamilielede eerste te stel – of hulle nou die beste opsie vir ’n kind is of nie.

Antie voel jou suster is ’n kop aangesit deur hierdie ouma.

Nog voor haar kleinkind se geboorte het sy nie kans gesien vir die kind nie en kon hom nie gou genoeg aan jou suster afsmeer nie.

Nou blyk dit ’n ander storie te wees. Dit kan wees dat hierdie ouma ’n gewete ontwikkel het en nou haar afgestorwe dogter se kinders wil grootmaak.

Dit verskoon egter steeds nie die behandeling wat jou suster van haar kry nie.

Wat vir my ’n groter moontlikheid is, is dat hierdie ouma nou grootoog begin raak het vir die toelaag wat die kind kry. Hoe min daai grant ook al mag wees, daar is mense wat hul linkerlong daarvoor sal verkoop.

Jou suster het langer as ’n jaar uit haar pad uit gegaan om ’n ma te wees vir ’n kind aan wie sy nie eens die lewe geskenk het nie.

Sy het hierdie seuntjie toegegooi met liefde en natuurlik maak dit nou seer dat sy eenkant toe geskuif word.

Die ouma blyk egter die social workers aan haar kant te hê en tensy julle wil hof toe gaan en bewyse het dat die ouma nie mooi na die klonkie kyk nie, is jou suster se hande basies afgekap.

Die moeilikste ding vir haar om nou te doen, is om terug te staan wetend dat sy nie iets verkeerds gedoen het nie.

Wie weet, dalk nog gouer as wat jul almal dit expect, draai dinge julle kant toe.

You never know.

Tot dan moet jy daar wees vir jou suster en haar deur hierdie moeilike tyd help.

Sy moet weet dat sy niks verkeerd gedoen het nie, dat die feit dat hierdie kind nie meer in haar toesig is, nie ’n weerspieëling is van haar moederlike vermoëns nie.

Kom ons kyk vir nou hoe ver kom daai ouma.

Die lekkerte van vier kinders se grants kan baie gou deur die omvang van haar taak oorskadu word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters