25 dae gelede
Ou soek nou iets anders as local ‘paartie-girls’
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK BLY in ’n klein plekkie waar daar nie veel gebeur nie.

Naweke moet ’n man maar sy eie ding doen.

Dis is dan maar die een paartie ná die ander met die brasse.

Antie, ek is nou 25 jaar oud en voel dis tyd om te settle.

Maar kan Antie my glo dat dit moeilik is om ’n girl hier te kry wat nie net op paartie uit is nie?

As jy nie ’n kar en geld het nie, kyk die girls nie eens jou kant toe nie.

Selfs die meisies wat klaar kinders het, is nét so uitsoekerig.

Moet ’n man dan na ’n ander dorp trek om iemand te kry? G van E, SMS

Nie alle meisies is behep met ’n ou met ’n kar nie.

Dis mos maar hoeka daai brekkerige ouens met die Polo’s en watse ander karre wat girls het in ál wat ’n dorp is.

Daarom is daar baie meisies wat maar versigtig vir sulke outjies is en nie so kar-verskrik is nie.

Ook kan nie alle meisies oor dieselfde paartie-kam geskeer word nie.

En dalk is dit nie net die girls wat uitsoekerig is nie, maar maybe jy ook? G’n meisie wil eers ’n CV ingooi om jou girl te wees nie.

As jy dalk eers weer ál die specs in ag neem, sal dinge op die liefdesfront begin uitwerk.

Geduld is baie male ook die wagwoord, want ’n goeie meisie val nie agter enige bos uit nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters