2 maande gelede
Ou se familie staan in die pad van ons geluk
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS reeds vier jaar in ’n verhouding met P.

Antie, ek het drie kinders, van wie een P se kind is. Tans is ek weer swanger.

Antie sien, ek is lief vir dié ou van my, maar sy familie staan in my pad.

Sy suster maak asof sy van my en my kind hou, maar sy beskinder my orals met haar vriende.

Aan die ander kant is daar sy antie, wat ook met my ’n uitval gehad het omdat ek my ou en sy suster bygestaan het.

Maar weet Antie, my ou en sy suster het dit ontken. Dit het my baie seergemaak. Ek loop ook nie by hul plekke nie.

Ek wil graag vrede maak met die antie omdat ek as kind weet dit sal die beste wees, maar as ek my ou se hulp vra, dan het hy altyd verskonings asof hy nie regtig belangstel nie.

Ek weet nie meer wat om te maak nie, maar sy optrede in dié saak is nie normaal nie.

Ek is tog baie unhappy in die verhouding, maar wil nie my ou verloor nie.

Ál hierdie dinge maak my moeg, Antie. – R van P, WhatsApp

Ál hierdie drama met P en sy familie, en dan gaan maak jy nóg ’n baby met hom.

Met die tweede kind is jy nou ín die family en in ál die drama gesement.

Liefie, as jy wil peace maak met sy antie, dan het jy nie sy ondersteuning of hulp nodig nie. Jy sien dan klaar hy is traag om jou te help.

As dit jou begeerte is om dinge met dié vrou op te patch, kan jy haar op jou eie nader en vra of julle nie maar die strydbyl kan begrawe nie.

Jy sê jy is unhappy in jou verhouding met P, maar tog gaan raak jy weer ’n keer swanger van hom. Watse unhappy, onbeskermende seks het jy dan?

Daar is immers ’n groot verskil tussen ’n unhappy verhouding en ’n happy meal.

Hoe dit ook al sy, met die kinders is jy nou ’n lid van die familie en julle sal tussen ál die ongelukkigheid en geskinder ’n way moet kry om nie net mekaar te verdra nie, maar in vrede met mekaar te lewe.

Liewe Antie Mona

EK KRY die gevoel dat my kinders se ma my verneuk.

Ons het twee kinders saam en alles tussen ons het gechange. Ek mag nie eens meer my hand om haar lyf sit nie.

Ek benodig raad. Asseblief, Antie. – Hartseer van D, WhatsApp

Daar is ’n groot verskil tussen ’n vermoede en bewyse.

Jou gevoel dat hierdie meisie jou verneuk, kan nie net geskoei wees op die feit dat sy nie meer wil hê jy moet jou arm om haar lyf sit nie.

Wie weet, dalk is daar ’n ander rede hoekom sy nie jou arm om haar lyf soek nie. Soos dat jy alweer lus is vir ’n ietsie en sy is nie in die mood nie, want sy weet alte goed daai arm om die lyf is jou way vir lyf soek?

Of dat sy nie meer lus is om net die ma van jou kinders te wees, maar daar is geen begeerte van jou kant om met haar te trou nie?

Sien, daar is verskeie moontlike redes vir haar optrede. Jy hardloop conveniently na die eerste ver­skoning wat in jou kop inkom.

Omdat ’n vrou nie wil afgee nie, beteken glad nie dat sy besig is om op jou te cheat nie. Waar moet sy anyway tyd vir dit kry as sy na jou twee kinders moet omsien?

Hou op sulke “gevoelens” kry en vra haar reguit wat skort.

Sien, só sal jy weet watse kwade gevoelens sy teenoor jou arme arm koester.

Liewe Antie Mona

EK SOU nogal nie omgegee het as die looting hier in die Wes-Kaap ook was nie.

Ek sou nogal kon doen met groceries en nuwe klere en meubels vir my kinders.

Dit gaan baie swaar met ons arme mense hier buite.Anoniem, WhatsApp

Moet asseblief nie vir jou mal kom hou nie! Sien jy nie hoe swaar gaan dit nou met die arme mense in KZN en Gauteng nie?!

Dinge is nou skaars. Brandstof en kos is skaars. Jy kry skaars ’n prentjie van brood in die hande.

En dan wens jy daai verwoesting kon by jou ook geskied?!

Wens eerder dat jy op ’n eerlike wyse ’n goeie werk kan bekom waarmee jy jou kinders kan onderhou. Moenie kom wens vir nagmerries nie, asseblief.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters