Verlede maand
Ou nou spyt oor dronk gedrag teenoor vrou
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS L van M en ek is 27 jaar oud.

Ek weet Antie is nie ’n dating site nie, maar mens weet nooit waar jou geluk lê nie.

Ek is tans werkloos en sukkel om werk te kry, maar dís nie my probleem nie. Antie, ek is op soek na ’n goeie vrou wat bereid is om ’n lewe met my te deel.

Ek sal haar help met huistakies of enigiets terwyl ek op soek is na ’n werk.

Ek woon tans nog by my ma, maar voel vasgedruk in my omgewing.

Sy kan enige ouderdom tussen 20 en 40 wees en selfs ’n kind of twee hê, want ek het ook een.

Antie kan my nommer deel indien my droomvrou van haar laat hoor. – L van M, WhatsApp

Dit is beslis so dat hierdie nie ’n dating site is nie, maar ai jinne, hoe kan Antie vir jou nee sê as jy dan so mooi vra?

Liefie, Antie is van daai old school mense wat glo dat liefde na jou toe moet kom. As jy daarvoor gaan soek, weet ’n mens nooit wat jy gaan kry nie.

Dit klink of daar taamlike uphill battles is wat jy tans deurmaak. Sal dit nie beter wees om eers aandag aan al hierdie ander dinge te gee nie?

Om werk te kry was maar nog altyd moeilik. Covid en die verwoesting wat dit kom saai het, het dit nou soveel moeiliker gemaak. Maar aanhouer wen en Antie glo dat as jy aanhou soek en aanhou jou CV’s ingooi, gaan die regte werk aan jou deur klop.

En dan sal jy mos in ’n posisie wees om uit te kyk vir iemand wat die langpad saam met jou kan stap.

Liewe Antie Mona

EK HET ’n moewiese groot fout gemaak en staan nou op skei.

Antie, ek het sewe jaar nie gedrink nie, maar toe ek laas jaar my werk verloor het, het ek heavy aan die drink gegaan.

Dis nou so erg dat dit ’n daaglikse ding is waar ek van die oggend tot die aand by die huis drink.

Dan verpes ek my vrou en skel haar lelik uit as sy nie by my wil kom slaap nie.

Ek voel verskriklik sleg oor hierdie gedrag van my.

Daar is dinge gesê wat my vrou my nooit sal vergewe nie.

Dit vreet aan my om in haar oë te sien hoe seergemaak sy is.

Ek het vir die vrou wat ek die liefste op aarde is, gesê sy is ’n groot jintoe en nog ander leliker goed.

Daar is nou ’n kouete in ons huis. Sy het uit ons slaapkamer getrek en slaap nou in een van die kinders se kamer.

Ons praat glad nie met mekaar nie.

Ons groet nie eens mekaar nie en die arme kinders verstaan natuurlik nie wat aangaan nie.

My dogter het my reguit gevra hoekom ek dan nie meer lief vir haar mammie is nie. Ek kon haar nie antwoord nie.

Ek kan sien dat hierdie kind van my baie ontsteld is oor die gebeure.

Ek het geweet hoe om alles op te mors, maar nou weet ek glad nie hoe om dit te fix nie. – Diep Jammer, WhatsApp

Weet jy, dis ’n goeie begin dat jy berou het en sleg voel oor die dinge wat jy aan jou vrou gesê het.

Woorde is iets kosbaars, maar net soos wat jy iemand se dag met ’n kompliment kan ophelder, nét so kan jy iemand diep seermaak met die allervieslike woorde soos dié wat jy jou vrou toegesnou het.

En dit begin alles by die drank, wat duidelik nie goed is vir jou nie. Wat ook al jy in die lewe deurmaak, moet jy besef die antwoorde op jou probleme lê nie in die drankbottel nie.

Al wat die drank jou in die sak gebring het, is nog meer probleme, soos jy nou ervaar het.

Jy sal die drank onmiddellik moet los.

As jy dit nie op jou eie kan doen nie, is daar absoluut niks daarmee verkeerd om by ’n rehab-sentrum of by plekke soos Alkoholiste Anoniem ’n draai te gaan maak nie.

So seergemaak en dalk selfs hard soos wat jou vrou nou teenoor jou is, is daar altyd die kans dat sy jou sal vergewe as sy sien jy maak ’n regte effort om te verander.

En jou kinders sal ook bly wees om hul daddy van ouds weer terug te hê. Soos wat almal weer happy sal raak, so sal die gemoed in die huis ook verander.

As jy egter niks gaan doen nie, gaan dinge net verder handuit ruk.

Sorry is mos altyd ’n swaar ding om te sê, maar jy sal jou nugter mond moet oopmaak, jou vrou opreg om verskoning moet vra en hoop en bid sy gee julle nog ’n kans.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters