10 dae gelede
Ou los my voor Krismis en jol met my vriendin
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

DIT lyk asof hierdie tweede golf van corona met mening op ons toegeslaan het.

Tog is daar baie wat min gespin is hiermee. Ek weet van ’n hele paar mense wat positief was en moes isolate, maar nooit by hul huise gebly het nie.

Hier in K waar ek bly, loop almal ook sonder maskers rond en almal paartie asof daar nie ’n dag van môre is nie.

Antie, as pensioenaris maak dié mense se gedrag my baie bekommerd. Niemand luister dan nie.

Ek voel so angstig as ek saans wakker lê en dink aan hierdie virus wat my kan kom haal.

Ek praat met my huismense, veral die kleinkinders, maar hulle is net soos: “Wat gaan met ouma aan?” Dan doen hulle maar net weer die dinge wat hulle in gevaar kan stel.

Orals in die nuus hoor ’n mens hoe vol die hospitale is.

Ek is ’n bejaarde, 67 jaar oud, maar is nog nie nou al gereed vir my kis nie. Wat kan ’n mens sê vir hierdie mense wat nie wil hoor nie? Bekommerde Ouma van K, WhatsApp

Antie reken daar is baie, veral bejaardes, wat tans deur diepe kommer gaan oor hoe roekeloos hul gemeenskappe en huismense omgaan met hierdie corona- krisis.

Nou, meer as ooit, is dit duidelik dat baie net ornamente vir ore het en nie ’n duit omgee oor ander se welstand nie.

Covid-19 maai in ons gemeenskappe. Kyk maar net in die sosiale media soos op Facebook wat deesdae meer iets soos RIP book is.

Daar is ’n baie eenvoudige oplossing vir dié dodelike virus – bly met jou stert by jou huis.

Die virus kan niemand aansteek as almal by hul huise bly en nie rondbeweeg nie. Maar vir baie is dit mos festive nou en ICU later.

Ons arme dokters en verpleegsters kan nie meer byhou nie.

Selfsug gaan ons ondergang beteken. Moet nie ophou om met jou huismense te praat nie.

Remind hulle om elke hoek en draai van die gevare wat die virus inhou en hoe almal op hul hoede moet bly. Ons kan nie ons waaksaamheid verslap nie.

Hele gesinne word uitgewis. Jou mense moet nou wakker skrik voordat hulle die langste van trane huil en die dag van ’n begrafnis van verdriet in die kis wil val.

Spyt hoef nie te laat vir ons te kom as ons vir ’n slag ander se behoeftes en gesondheid ook in ag neem nie.

Liewe Antie Mona

EK EN my boyfriend het ’n dag voor Kersfees opgebreek.

Hy het ’n flou verskoning gespin van hoe hy space nodig het.

Ons was vir twee jaar saam. In dié tyd het hy my met ’n hele paar meisies verneuk. Ek is lief vir hom en ons opbrekery was ’n skok vir my.

Ek hoor hy sien iemand anders en het hom op WhatsApp hieroor uitgevra. Hy het my net geblue-tick en nie respond nie.

Die ergste van alles is dat hierdie ander meisie ’n vriendin van my is. Sy vermy my ook nou.

Ek kan nie glo dat hulle so iets aan my kan doen nie.

Wat het ek gemaak om hierdie te verdien? Ek hoor hulle twee hou nou so lekker nice times.

Ek sit maar nou hier by die huis, maar die trane loop sommer so oor my wange as ek dink aan wat hulle aan my gedoen het. – Hartseer Eks, WhatsApp

Liefie, droog daai trane af en kyk met blink oë na die nuwe jaar.

’n Boyfriend soos daai en ’n vriendin soos daardie slang het jy beslis nie in jou lewe nodig nie.

Die cheater-cheap jong kon seker nie twee Krismisgeskenke bekostig nie, dis hoekom hy met jou opgebreek het.

Antie sê altyd mense wat space soek, moet astronauts word.

Sy space-resitasie was anyway net ’n flou verskoning. Dit weet jy nou.

’n Gebroke hart is nooit lekker nie, maar troos jouself daaraan dat jy niks verkeerd gedoen het nie. Dis sy loss.

Met al die kere wat hy jou verneuk het, is dit eintlik ’n bestiering dat hy uit jou lewe is. Dit mag dalk nie nou vir jou so voel nie, maar jy gaan eendag lag oor die trane wat jy oor hom gestort het.

Iemand wat lief is vir jou, cheat nie op jou nie. Jy verdien meer en beter en dit is tyd dat jy dit besef.

Gee jouself tyd. Voordat jy jou oë uitvee, is dié verneuker ’n vergeelde memory.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters