Verlede maand
Ou joller ‘help’ nou ’n Covid-weduwee uit
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS van ’n klein dorpie en hier worry die mense nie oor Covid nie.

Antie, hulle raak dan skoons kwaad vir jou as jy hulle nie by jou huis wil toelaat nie.

Vandat die drank ook nou weer te koop is, word daar gepaartie asof Krismis om die draai is.

Daar is al heelwat mense in ons dorp dood weens Covid, maar dit maak eenvoudig nie die mense se oë oop nie.

As hulle dronk is, is hulle die slimste en sê Covid is niks anders as ’n hoax nie. Die einste slim mense se families eindig dan in die hospitaal met Covid.

Ek het ’n bejaarde ma na wie ek kyk en dít is hoekom ek nie mense by ons huis toelaat nie.

Maar nou word daar vir my gesê ek wil vir my hou wat ek nie is nie. Kan mense so dom en so onverantwoordelik wees? – GH, WhatsApp

Liefie, niemand is so gevaarlik soos die sirkus-clown wat nie ’n verstand het nie.

Ons almal trek nou al jare aan die kortste ent met clowns wat die land tot in die afgrond in regeer, maar Covid is ’n siekte waarmee geen clown sy luck moet kom try nie.

Dit is g’n grap of hoax nie. Mense verloor hul lewe. Paartjies en ander familielede word dae ná mekaar uitgewis.

Baie is getraumatiseer deur die emosionele en finansiële skade wat hulle ly. Maar dan kry jy die slimbek-dronkies en ander onverantwoordelike siele wat steeds dink alles is hunky dory.

Dit is seker jou reg om stupid te wees, maar dan moet jou stupidity nie ander se lewe in gevaar stel nie.

Dit is jou reg om jou drankie te geniet, maar dit moet op ’n verantwoordelike wyse geskied.

En ongelukkig weet jy mos dat ons as Suid-Afrikaners veels te dikwels nie brieke het as dit by drank kom nie.

Jou en jou ma se welstand is jou prioriteit en jy hoef nie daarvan af te wyk nie. Laat dié wat wil voorgee dat jy jou lekker wil hou, dit maar aanhou glo. Gaan voort om jou deel soos baie ander gehoorsame Suid-Afrikaners te doen.

Ons durf nie toelaat dat stupidity ons almal se lewe in gevaar stel nie.

Liewe Antie Mona

EK HET ’n hele paar jaar gelede aan Antie geskryf oor my man wat so jol.

Ek het Antie se raad gevolg en hom gekonfronteer. Hy het snot en trane beloof dat hy sy dinge gaan los.

Ek het toe besluit om ons huwelik nog ’n kans te gee en vir drie jaar was dinge amper weer soos dit van ouds was.

Maar so ses maande gelede het ek agtergekom my man tree geheimsinnig op. Hy is nooit by die plekke waarheen hy sê hy gaan nie en as ek hom daarop wys, sê hy ek is paranoid.

In ’n stadium het ek self gewonder of dit nie maar is oor die dinge van die verlede nie, maar toe sien ek op sy phone ’n WhatsApp-boodskap van ’n vrou wat so ’n paar huise van ons af bly.

Hierdie vrou se man het laas jaar weens Covid gesterf en hulle twee is nou baie close.

Hy sê hy help haar maar net uit met goedjies om die huis, maar hoekom sal sy vir hom ’n boodskap soos “Ek mis jou” stuur?

Hoeveel ander boodskappe is daar van haar wat hy nie al delete het nie? Want ek het agtergekom die time­line van hul gesprekke maak nie sin nie en ek kry die idee van die boodskappe is uitgewis.

Ek sien nie meer kans om deur dieselfde dinge as jare gelede te gaan nie. – Anoniem, Whats­App

Dit wil inderdaad lyk asof hy haar in en om die huis uithelp ... tot in die slaapkamer ook.

Hoekom anders boodskappe delete en so geheimsinnig oor sy whereabouts wees?

Dit klink asof daar ander gras naby jou man se slang kan wees en teen dié tyd weet jy mos nou al dat hy eers uitgevang sal moet word voordat hy tranerig sal confess.

Soos laas keer sal jy jou huiswerk moet doen en ál jou feite agtermekaar kry.

Vrou, dan sal jy maar moet besluit of jy hom wéér ’n kans wil gee, want clearly het hy nie sy les geleer nie – dis nou as hy weer besig is met sy ou streke.

En is daar dan nie ander mans in die buurt wat hierdie buurvrou in en om haar huis kan “uithelp” nie?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters