Verlede maand
Ontrou vrou maak dat ek nie meer wil lewe
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WEET baie mense skryf vir Antie met groter probleme, maar dalk kry Antie kans vir my brief.

Antie, ek is ’n gebroke man. My hart is stukkend.

Ná 36 jaar se huwelik met ’n fantastiese vrou vir wie ek my lewe sou gee, kry ek haar met ’n ander man in my bed.

Antie, ek is stomgeslaan. Wat het ek so verkeerd gedoen om dít te verdien?

Ek het deur ons huwelik elke dag my liefde bewys. Selfs blomme by haar werk afgelewer.

Ek het als gedoen om haar elke dag te laat voel sy word waardeer.

Beste motor, huis ... als vir haar gedoen. Ons het naweek ná naweek weggegaan. Die kinders is uit die huis.

Sy weet ek het haar liewer as woorde. Antie, wat nou? Ek weet ek moet sterker wees “as man”. Ek huil myself aan die slaap.

Haar reuk is orals in die huis. My hart is so seer.

Waarom moes dit met my gebeur? My hart is gebreek.

Hoe kon sy dit aan my doen ná 36 jaar?

Hoe kan sy my so straf?

Ek is stukkend, ek wil nie meer leef nie. My kinders is ál wat my hier hou.

Hoekom doen mense dit aan ander? Hoekom maak dit so seer? – Gebroke Man, WhatsApp

Jy moet nooit dink dat jou probleem nie so “groot” soos ander s’n is nie. Antie tref nie onderskeid tussen ’n “klein” en “groot” probleem nie.

Dit is ’n verskriklike ding wat jy oorgekom het.

Wat ’n aaklige skok moes dit nie gewees het om jou vrou met ’n ander man in jul bed te betrap nie!

Antie is jammer dat sy so min waarde aan jul huwelik van amper vier dekades geheg het.

Antie is jammer vir die pyn en diepe smart wat hierdie teleurstelling in jou lewe veroorsaak het.

Wat egter baie belangrik is, is om te besef niks hiervan is jou skuld nie.

Jy het haar elke dag soos ’n queen getreat en kyk hoe bedank sy jou.

Selfs al het jy haar elke aand na die maan gevat vir ’n romantic dinner, sou dit nie hierdie vrou gekeer het nie.

Daar is eenvoudig mense soos jou vrou in hierdie wêreld wat nie waardeer wat hulle het nie – tot hulle dit verloor.

Selfmoord is g’n daad waarna jy jou hoef te wend nie. Ja, dit is seer en ja, jy is in stukke.

Met tyd gaan genesing egter kom en die wete dat hierdie vrou nooit jou liefde werd was nie.

Tyd is aan jou kant. Gee jouself al die tyd in die wêreld om oor hierdie skok en teleurstelling te kom.

Moenie haastig met jouself raak nie. Moenie jouself blameer of jouself dwing om oor hierdie trauma te kom nie.

Jy sal sien dinge sal beter raak soos wat die tyd aanstap.

Dit mag dalk nie nou so voel nie, maar jy sal eendag oor hierdie seer kom.

Tot dan lig jy jou ken op en kyk die wêreld vierkant in die oë, want jy het niks verkeerd gedoen nie.

Alle sterkte!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters