24 dae gelede
Nuwe vrou in pa se lewe krap sy dogter erg om
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

ONS het verlede jaar ons ma aan die dood afgestaan weens Covid-19.

Haar dood was ’n skok vir ons almal, want sy was ons rots en staatmaker. As ek moet eerlik wees, is dit steeds moeilik vir my om te aanvaar.

Die een oomblik was sy nog hier en die next is sy hospitaal toe en sukkel om asem te haal.

My ma was altyd baie gesondheidsbewus en het ons altyd gemaan om na ons gesondheid te kyk.

Maar Antie, wat my baie grief, is dat my ma skaars drie maande onder die grond was, toe begin date my pa weer.

Eers was dit die een antie in die kerk, toe ’n ander een, en nou bok hy by iemand wat ons as kinders glad nie aanstaan nie.

Wat my pa op sy ouderdom op Facebook soek, weet ek nie, maar dis glo waar hulle ontmoet het.

Hy is 65 en hierdie vrou in haar 40’s – basies dieselfde ouderdom as my oudste broer.

Hierdie vrou het geen respek vir ons as kinders oor die nagedagtenis van ons ma nie.

Sy het sommer sak en pak hier ingetrek en alles gechange. Alles waarvan my ma gehou en oor die jare bymekaargemaak het, is summier van ontslae geraak.

Ons het van die goed probeer red, maar daar is baie goed waarvan my pa nou nie kan rekenskap gee nie.

Om met my pa hieroor te praat, baat ook niks nie. Hy is nou soos ’n klein seuntjie en doen eenvoudig alles wat hierdie vrou sê.

Hy trek net sy skouers op en sê die lewe gaan aan en dat hy nie alleen kan wees nie.

Ek het nou onlangs gehoor hy was prokureur toe om sy will te gaan verander en toe ek hom daaroor uitvra, was hy baie vaag. Ál wat hy gesê het is dat ons kinders se geld nog safe is, maar dat hy haar ook wil insluit vir die dag dat hy nie meer hier is nie.

Nou, Antie, baie kinders is oor erfporsies, maar dis beslis nie die geval hier nie.

My ma het jare lank ’n goeie werk gehad en ek weet dat sy goeie geld agtergelaat het, sowel as ’n paar polisse wat lekker uitbetaal het.

Hierdie geld beteken eintlik vir ons niks nie, want ons sal wát gee om net ons ma terug te het.

Hierdie vrou is nie sy wettige vrou nie en ek voel net dat sy en haar twee kinders mos nie sy verantwoordelikheid is nie.

Ek was so kwaad en ek weet dis nie reg wat ek gedoen het nie, maar ek het sommer vir my pa gesê hy is soos iemand wat nou eers toet agterkom.

Dinge is nou nie meer lekker tussen ons nie. Ek was nou lanklaas by my ouerhuis, want dit voel nie meer soos my ma-hulle se huis nie.

Ek voel net hierdie vrou manipuleer my pa en hy is te blind om dit te besef.

Is dit verkeerd van my om so te voel? – Moedeloos, E-pos

Antie dink glad nie daar is iets verkeerd met jou pa se belange beskerm en op die hart dra nie.

Jul ma was ’n dierbare mens, soos Antie kan agterkom. Julle was lief vir haar en het die grond aanbid waarop sy geloop het.

En dis maar net natural om die bedoelings van iemand te question wat nou maar bietjie-dag in jul pa se lewe gekom het en haarself klaar in sy testament bevind.

Jul ma het haar ook nie haar hele lewe lank afgesloof sodat iemand anders nou net kan kom aansit en die vrugte van haar sweet kan enjoy nie.

Veels te dikwels hoor mens van sulke gevalle waar die kinders eendag op hul rug val as die testament gelees word en hulle ontdek hulle is heeltemal uit die will geskryf. Dan lê die pa salig en rus onder die grond terwyl julle met die gemors moet deal.

Wanneer ’n man só om ’n pinkie gedraai word, kan julle nie alles glo wat hy sê nie – veral nie as hy so vaag is en julle skaars in die oë kan kyk nie.

Maak die ander siblings bymekaar, deel jou concerns met hulle en vra jul pa om die inhoud van daai testament met julle te deel.

As hy niks het om weg te steek nie, sien Antie nie hoe so ’n versoek van julle geweier kan word nie.

Jul pa voel hy is reg om aan te beweeg en julle sal sy besluit moet respekteer.

Maar julle kan ook nie gerus handjies gevou sit en toekyk hoe hy uit daardie geld gemanipuleer word nie. Hou hierdie vrou fyn dop. Sy klink soos iemand wat heeltemal op ’n incash mission is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters