14 dae gelede
Net mooi niks maak my koue vroutjie warm nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS A van A en gaan drie jaar uit met AG.

Maar die afgelope drie jaar het ons nog net gestry en baklei oor elke liewe klein dingetjie in die lewe.

Ek is mal oor hom en hy slaan my nie.

Ons stry net oor die kinders wat nie maniere het nie.

Twee minute later is als weer oor. Soms vermaak ons mekaar en dan sê ek hy moet loop.

Dan weier hy om te loop.

Hy sê hy praat nie met ander vroumense nie.

Hy sê hy gaan my die jaar ’n mevrou maak, maar ek is nie nou reg vir trou nie.

Is dit normaal om so baie te stry, Antie? – A van A, WhatsApp

Dit is normaal of so af en toe oor issues te verskil, maar om drie jaar al so te stry klink nie vir Antie lekker nie.

Dit lyk dan nou so asof julle nie ’n ander conversation kan hê waar julle nie in mekaar se keelgat afspring nie.

As kinders nie maniere het nie, is dit oor die ouers nie hul job reg doen nie. Dit klink vir my julle blameer mekaar oor wie se skuld dit is dat die kinders so uit die wil uit is.

Liefie, ’n mens behoort ook moeg te raak van stry en baklei.

Jy sê jy is nie nou gereed vir trou nie, maar julle moet eers hierdie kinderagtige vassittery uitsort voordat julle afhaak.

Jy wil immers nie eendag op jou groot dag so stry-stry kansel toe loop nie.

Julle maak kinders groot en jy wil nie vir kids wys dat die rol van ’n ma en ’n pa is om elke liewe dag met mekaar te stry nie.

Hou op om mekaar te vermaak, want sulke gedrag pas nie by mense wat veronderstel is om kinders groot te maak nie.

Liewe Antie Mona

MY VROU is nie meer baie warm in die bed nie.

Dit kom nou al ’n hele paar jaar so aan.

Ek het al alles probeer om dinge op te spice: romantiese naweke (voor corona), lekker badwater vir haar getap, help met die kinders en maak huis skoon.

Niks help nie. Die vrou bly net moeg.

As ek net my hand oor haar gooi in die bed, dan skree sy my kop van my lyf af.

Ek is nou mooi gatvol.

Praat help ook nie, want toe ek mooi met haar hieroor wou praat, toe verskree sy my en sê ek kan vir my ’n jintoe gaan soek.

Dis sulke vroue wat ’n man mos dryf om sleg te loop wees. – Gatvol Man, WhatsApp

Seks is nie alles in ’n huwelik nie, maar ’n wonderlike tool vir couples om te connect.

Jinne, wat is dan nou lekkerder as om binneboud te lê met die een wat jy nog steeds smaak, die een wat jou hart se punt is?

Ongelukkig is daar deesdae hopeloos te veel voorvalle waar veral mans sukkel om ietsie in die bed te kry.

Daar is verskeie redes hoekom vroue so koud in die bed kan raak.

Hormoonwanbalanse, depressie, chroniese siektes en sekere me­dikasie is alles moontlike redes hoekom jou vrou dalk deesdae so suinig is om af te gee.

Antie moet byvoeg dat hierdie ’n verskriklike stresvolle jaar propvol uitdagings was wat dalk jou vrou se lus ook so ’n bietjie geblus het.

Maar die manier waarop sy reageer, is not on.

’n Mens dryf mos nie jou man in die kloue van ’n ander vrou nie.

Hierdie is ’n uiters moeilike situasie wat baie wrywing in jul huwelik kan veroorsaak.

Praat weer met haar.

Sy kan maar bollewange sit en luister, maar laat sy weet hoe jy voel as sy jou so reject.

Laat sy weet jy is daar vir wat ook al die challenges is wat sy deurmaak, maar dat sy jou in haar vertroue moet neem, want as paartjie is julle veronderstel om saam deur die goeie en slegte tye van die lewe te gaan.

Stel ’n doktersbesoek en selfs berading voor.

Antie kan net hoop dat hierdie vrou se oë en ore sal oopgaan en sy sal besef dat sy haar kant ook moet bring om ’n oplossing vir jul koue-bed-issue te kry.

Jy kan net aanhou probeer in die hoop dat jou pleidooie nie op dowe ore val nie.

Dit gaan ’n sad, sad dag wees as jul huwelik moet vou omdat net een van julle bereid was om dit te laat werk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters