Verlede maand
Net kommunikasie kan verhouding dalk red
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS in ’n verhouding met iemand wat jonger as ek is.

Ons verhouding is goed, maar die probleem is ons kan nie praat oor dit wat ons pla nie.

Ons is albei mense van min woorde. Ek twyfel soms oor die verhouding.

Hy wil trou. Kan Antie my raad gee, asseblief? Ek twyfel soms wanneer ek so alleen sit en dink. Onseker, WhatsApp

Liefie, ongelukkig kom dit glad nie duidelik deur presies waaroor jy bekommerd is nie.

Julle is mense van min woorde, dis basies al wat Antie van jou brief verstaan.

En so min jy van woorde is, so min het jy ook in jou brief gesê.

Jy wei nie eens uit oor presies hoe groot die age gap tussen julle is en of dít dalk die rede kan wees hoekom julle so min vir mekaar te sê het nie.

Kommunikasie is belangrik in enige verhouding. So, hoe min julle ook al van woorde is, sal julle eenvoudig jul monde moet oopmaak en praat as ’n ding julle pla.

As julle wil trou, maar nie weet hoe om met mekaar te praat nie, is dit ’n resep vir broeiende konflik.

Liewe Antie Mona

EK SIEN nou al geruime tyd hoe mense afgekraak word wat hulp in sosiale media soek.

Die mense word omtrent sleggesê en dis nie mooi nie.

Die lewe is baie swaar op die oomblik en dit maak my baie hartseer om te sien hoe mense wat reeds lê, verder getrap word.

Hoe maak ’n mens met hierdie hartelose mense? Dit voel soms asof ek hul tande uit hul bek kan klap. Ontsteld, WhatsApp

Antie wonder soms of dit al óóit so swaar met ons gegaan het soos wat dit tans die geval is.

Armoede en swaarkry was maar nog altyd deel van ons bestaan, maar dis asof Covid-19 dinge net soveel erger kom maak het.

Vir iemand om na vreemdelinge uit te reik vat baie guts. Jy moet jou trots sluk om dit te kan doen en dis gewoonlik ’n sign dat mense geen ander uitweg het nie.

Dan kry jy die idiote wat onwelkome eiers kom lê en daai persoon nog verder kom verneder.

Antie glo dat as jy niks goeds of konstruktiefs te sê het nie, dan hou jy jou comments vir jouself.

As jy nie iemand wil help nie, is dit jou besluit, maar niemand het die reg om ’n persoon wat klaar so desperaat is, verder af te druk nie. Daar is gans te veel mense wat hul reg op ’n opinie op ’n onmenslike wyse misbruik.

Liewe Antie Mona

MY VROU se ouers het verlede jaar deur ’n moeilike tyd gegaan.

Ek het ingespring om hulle te help, maar noudat dit weer goed met hulle gaan, lyk ek weer soos die robbies in die verhaal.

Ek word nou beskinder en in die familie swak gemaak, maar dit was ek, die korrelkop-skoonseun, wat hul monde moes oophou toe hulle skaars k*k in hul mae gehad het.

My vrou wil niks van haar ouers weet nie en ek is op daai punt waar ek hulle wil konfronteer om ál my geld terug te eis.

Hoekom moet mense só wees as dit die dag weer goed met hulle gaan? K van D, WhatsApp

Die ondankbares en uitbuiters sal altyd in ons midde wees. Verleë klop een of ander tyd aan ons almal se voordeur, maar daar is mos mense wat hulle kwaai wil hou as dit die dag weer goed met hulle gaan.

Wat jou skoonouers gedoen het, is nie mooi nie, maar jy en jou vrou moet daarteen waak dat hulle nie probleme in jul huwelik veroorsaak nie.

Wat belangrik is, is dat jy nou van beter weet.

So, next time as hulle weer asvaal in die gesig is van honger en verleë kan wees, dan weet jy wat om te doen.

Laat hulle jou maar beskinder en swak maak, jy ken die waarheid van hoe leeg daai mae van hulle was.

Hou jou kop omhoog, wetend dat jy probeer help het toe die nood groot was.

Mense soos daai verander nie. Dis hulle wat bo wil uitleef as die skaal in hul guns swaai, maar hulle weet waar jy bly as hulle jou nodig het.

Dit is daai soort mense wat sal aanhou val, maar nooit die lesse van die lewe sal leer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters