10 dae gelede
Naguil-vrou chat tot in die vroeë oggendure
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK SIT met ’n vrou wat ’n naguil is; nie om vir my ’n stukkie te gee nie, maar om langs my in die bed met ander mense te chat.

Antie, dan sê sy nog dis met vriende wat sy chat. Maar watter vriende is dan 03:00 in die nag nog wakker.

Sy lê saans eers by ons dogter en kom net bed toe as ek al slaap. Kyk, as ek slaap, dan slaap ek vas.

Maar daar is tye dat ek in die nag wakker skrik, dan lê merrim langs my besig op haar phone.

Sy skrik sommer as ek my omdraai, en dan is sy sommer klaar op haar phone en slaap. Ek kan nie anders as om te wonder met wie sy so chat nie.

Ek kon eenkeer by haar Facebook inkom en toe sien ek sy’t een oggend 01:00 met ’n eks van haar op Messenger gesels.

Daar was niks “snaaks” omtrent hul gesprek nie – niks wat ek anyway kon agterkom nie.

Maar hoekom so geheimsinnig wees daaroor? Ons is al nege jaar getroud, maar ek kan nie anders as om te wonder of sy steeds ’n crush op dié eks van haar het nie.

Wat dink Antie van dié situasie? – PJ, WhatsApp

Nee kyk, so ’n “naguil” se gedoentes kan ’n mens nogal aan die worry kry.

En die feit dat sy wag totdat jy slaap voordat sy bed toe kom om te lê en chat, laat mý nogal ook worry.

Daar is geen fout daarmee om steeds op ’n vriendskaplike voet met ’n eks te wees nie, maar dan moet dit darem vir die regte redes wees.

Wat is haar rede om ounag met dié man te chat? Hoekom ’n geheim daarvan maak as daar niks is om weg te steek nie?

Iets klink nie vir my lekker omtrent haar optrede nie.

Dit kan natuurlik wees dat, hoewel sy nooit op jou sal cheat nie, sy terugverlang na die jare saam met dié eks. Vir my is daar niks wat só ’n sentiment aanvaarbaar maak nie.

Dié kom-slaap-as-jy-slaap-gees wat in jul huwelik heers, sal aangespreek moet word.

Hoe oud is hierdie kind van julle dan dat die ma nog by haar moet slaap? Hoe gesond kan ’n couple se slaapkamersake wees as julle mekaar “verslaap”.

Dit het tyd geword dat jy nie net veel ligter moet slaap nie, maar uitsluitsel oor dié affêre moet kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters