19 dae gelede
Ná vloermoer mag pa nie meer sy baba sien
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS ’n getroude vrou met twee kinders en is baie lief vir my man.

My probleem is ek kan nie oor my eks-boyfriend kom nie.

Hy is ongetroud en het twee kinders. Ek probeer nie my huwelik met my man opmors nie, maar toe ek my eks oor die festive weer sien, het ál daai ou gevoelens weer by my opgekom.

Hy was my eerste en ek was nog ’n teenager toe ek hom ontmoet het.

Toe ek gemolesteer is, was hy die eerste een wat daarvan geweet het en my onder sy vlerk geneem het.

Hierdie gevoel wat ek vir hom het, is nie ’n sekslus nie, dit is egte liefde.

Ek en hy het ’n baie goeie understanding. Ek is lief vir my man, maar dit is nie dieselfde soos wat ek oor my eks voel nie.

As ek met my eks is, voel dit of die tyd stilstaan. Ek wil nie my huwelik in gedrang bring nie, want my eks is nog jonk en hy change steeds meisies soos wat hy onderklere change.

Ek dink nie hy besef hy is ’n player nie. Ek dink sy probleem is dat hy vrouerig is en hy kan homself doodeenvoudig nie help nie.

Hy wil my terughê en ek is letterlik in twee geskeur hieroor.

My hart kan nie weerstand teen hom bied nie, maar my kop sê ek moet wegbly van hom, want hy gaan my seermaak.

Antie, help my om van hierdie man te vergeet sodat ek kan aan­beweeg met my man. – Getroude Vrou, WhatsApp

Die abuse wat jy destyds ervaar het, is sad en Antie is jammer vir al die trauma wat jy moes deurmaak.

Al die dinge wat jy moes deurmaak, het jou in jou eks laat confide. Soveel so dat jy tot vandag toe glo hy is die enigste manspersoon wat jou verstaan.

Maar ’n huwelik en twee kinders later is dinge glad nie meer soos wat dit was toe jy ’n tiener was nie.

Jou eks mag hom maybe steeds verbeel dat hy die player van die jaar is, maar jy het aanbeweeg, of was suppose om aan te beweeg.

Dit klink vir my of hierdie eks jou wil hê, maar nie die hele package nie – bedoelende nie met kinders en al nie.

Ná al die jare het hy self nog nie die volwassenheid bereik om in ’n standvastige verhouding te wees nie.

Dus kan jy met reg worry dat hy hom net weer wil uitkuier by jou en dan aanbeweeg.

En nee, dis nie asof hy nie homself kan help nie. Hy besef alte goed wat hy doen. Om met girls se harte en gevoelens te speel, is wie en wat hy is.

Tyd kan nie wil stilstaan as jy by hom is nie, want tyd moes teen hierdie tyd al die oogklappe van jou oë af laat val het.

Al wat hy jou in die sak gaan bring, is verlies – verlies van jou huwelik en die verlies aan ’n goeie verhouding met jou kinders.

Moenie van daai mense wees wat eendag diep spyt wakker skrik wanneer hulle alles verloor het nie.

Hoe kom jy oor hom? Kyk na wat jy in jou lewe het. Kyk na watter blessing jou man en kinders vir jou is.

Kyk, word wys en besef dat om te hunker na vergeelde oomblikke van gister nie die moeite werd is nie.

Liewe Antie Mona

EK IS 23 jaar oud en ek en my drie maande oue baba se ma is nie meer saam nie.

Haar ouers wil nie ons verhouding goedkeur nie.

’n Tydjie gelede het hulle my gedreig en gesê ek moet wegbly van die kind af.

Dit is in die tyd toe sy haar ouers bo my verkies het.

Ek het onbeskof geraak teenoor haar ouers oor die way hoe hulle my getreat het.

Nou kan net my ma die kind sien. Ek moet op en af na my ma toe loop om my kind te sien.

Ek onderhou my kind. Ek is ’n student met geen vaste inkomste nie, maar ek weet wat my responsibilities is.

Selfs toe my eks in kraam was, wou hulle my nie sê by watter hospitaal sy is nie. – Moedelose Pa, WhatsApp

As pa het jy regte en het jy die reg om toegang tot jou kind te hê.

So is dit ook jou wetlike plig om vir dié kind te sorg. Dit is jammer jou verhouding met die ouers het so uitgerafel, want obviously maak dit nou dinge baie moeilik vir jou.

Dit is egter nie hul besluit of jy jou kind mag sien of nie.

Gaan na jou naaste hof se kinderhofafdeling en begin die proses om toegang tot jou kind te verkry.

Laat ’n hof bepaal watter kontak, indien enige, jy met jou kind mag hê.

Wat wil hierdie mense dan nou bereik deur jou weg te hou nadat jy en hul dogter dan al klaar babatjie gemaak het?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters