Verlede maand
My secret crush date een skuimbol ná die ander
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET ’n vriendin wat nie kan sien dat sy in ’n toxic verhouding is nie.

Antie, die man gee haar ’n harde tyd, maar sy bly klou aan hom.

Hy control haar, wil haar vriende vir haar kies en wil selfs aan haar voorskryf watter klere sy mag en nie mag dra nie.

Ons is al van hoërskool af vriende en ek het nog altyd ’n crush op haar gehad.

Maar ek hou my in, want sy het my nog nooit as meer as ’n broer en ’n baie goeie vriend gesien nie.

Dit breek egter my hart om te sien hoe sy van die een verhouding na die ander spring – en meeste van die tyd is dit mans wat haar nie verdien nie.

Sy is ’n baie goeie mens met ’n sagte hart en is iemand wat baie vir haar medemens omgee. Ek dink dit is dié goeie eienskappe van haar wat deur hierdie mans uitgebuit word.

Vir die afgelope ses maande date sy ’n skuimbol wat ek eenvoudig nie kan vat nie.

Voor mense is hy so ’n gentleman, maar ek weet dat hy al sy hande vir haar gelig het, want sy het dit met my gedeel.

Sy het dit gesien as ’n once-off omdat hy gestres was oor hy sy werk kon verloor.

Ek mean maar, Antie, daar is geen verskoning hoekom ’n man ooit sy hand vir ’n vrou moet lig nie. Maar sê dit nou vir R, my vriendin, want sy glo vas ek hou my snaaks en het selfs gesê ek gun haar nie happiness nie.

Dinge is nou baie tense tussen ons, want ek het haar gesê ek kan nie net daar wil wees as sy sh*t in haar lewe het nie.

Ons praat nou al vir langer as ’n week nie met mekaar nie en hoewel ek haar mis, glo ek dis belangrik dat sy my punt ook insien. Is dit dan verkeerd van my om só te redeneer? – Goeie Vriend, e-pos

Niemand is so blind soos die een wat weier om vir ’n eye-test te gaan nie.

Ongelukkig kan en wil hierdie vriendin van jou nie sien watter vuil uil sy op die oomblik mee deurmekaar is nie.

’n Man wat sy hande vir ’n vrou lig, is robbies. Finish en klaar.

Jy kan hierdie meisie nie vir jare lank al smaak en dink sy sien jou net as ’n broer nie.

Jy het dan nog nie ’n move gemaak, haar jou met ander oë laat sien nie. Who knows, dalk is dit net wat sy nodig het sodat dinge finally kan kliek in haar lewe.

Ja, goeie vriende maak die beste van lovers en lewensmaats. Ál die love songs in die wêreld vertel ons dan daarvan. Dit is tyd dat jy plak vasmaak en hierdie meisie sê hoe jy oor haar voel. Ja, die vrese is altyd daar dat dit ongemak in jul vriendskap kan veroorsaak, maar wie nie waag nie, wen nie.

Jy het niks om te verloor, anders as om maar altyd die een te wees wat na haar klagtes oor al haar failed verhoudings moet luister nie.

Liewe Antie Mona

MY OUTJIE wil nie gaan vir die vaccine nie en ons stry nou lekker daaroor.

Ek het laas maand ’n antie weens Covid-19 verloor en het ook al die virus gehad, so ek weet dit is real.

Maar my outjie kom met al die weirdest goed op wat hy op die internet raakgelees het.

Ek het hom gesê as hy nie wil gaan vir sy jab nie, moet hy wegbly, want my ma is sieklik en ek wil haar nie die virus laat kry nie.

Ek voel net hy is onnodig om te val vir sulke strontstories. Is ek verkeerd? – T van B, WhatsApp

Hierdie is daai tipe issues wat ’n mens gecrucify kan kry. Wêreldwyd, nie net in ons land nie, is daar hewige debatte op die oomblik aan die gang oor jou reg tot keuses rondom inentings. Ook oor hoe ver hierdie regte van jou strek ten opsigte van ander se reg om hulself in ’n veilige omgewing te bevind.

Elke mens is nou ’n expert en selfs diegene wat doerie jare laas biologie as vak op skool gehad het, onthou nou ewe skielik al daai lesse wat hulle bygewoon het as hulle nie die dag skool gebunk het nie.

Vir nou kom dit maar seker daarop neer om mekaar se standpunte te respekteer.

Antie sê vir nou, want daar is geen duidelikheid oor hoe die toekoms rondom inentings gaan lyk en waar jy met of sonder ’n jab toegelaat sal word nie.

As jy happy met jou besluit is, moet jou outjie dit respekteer en vice versa.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters