18 dae gelede
My outjie is bruin en my familie is erg rassisties
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS ’n 32-jarige blanke vrou, geskei en baie verlief op een van my kollegas.

Antie, ek kom uit ’n baie slegte huwelik waarin my eksman my erger as ’n hond behandel het.

Die vyf jaar wat ons getroud was, was hel op aarde en ek het myself beloof dat ek nooit weer op ’n man verlief gaan raak nie.

Die enigste positiewe ding van dié mislukte huwelik is dat daar nooit enige kinders was nie.

Ek het by my belofte van niks meer mans gehou totdat ek met my nuwe werk begin en hierdie man ontmoet het.

Hy is alles wat ek nog ooit in ’n man wou hê, maar daar is een “probleem” – hy is bruin.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, Antie. Dis baie beslis nie ’n probleem vir my nie.

Vir my was velkleur nog nooit ’n probleem nie, maar wel vir my familie wat op ’n klein, landelike dorpie bly.

Nie eens die grootte van die dorpie is ’n verskoning om so rassisties te wees nie. Ek skaam my elke keer dood vir die dinge wat hulle oor ander rasse kwytraak en sidder oor wat hulle te sê gaan het as ek my bruin boyfriend aan hulle moet voorstel.

Ek en hierdie man gaan nou al vir meer as ses maande vas uit.

Hy is wonderlik, Antie. Romanties, snaaks, neem my gevoelens in ag en gaan uit sy pad om my te bederf.

Verder is sy ouers die lieflikste mense wat ek al ooit ontmoet het en het my met ope arms in hul huis ontvang. Ek en sy susters is soos bloedsusters en daar word nie ’n braai gehou sonder dat ek nie genooi word nie.

Ongelukkig is my familie die erge teenoorgestelde. ’n Braai by my familie loop altyd ’n politieke draai, veral as die dop begin trek.

Dan is die H- en K-woorde aan die orde van die dag.

As ek met hulle hieroor praat, dan word ek skeef aangekyk en word dit gemaak asof ek die verkeerde een is en sleg uitgedraai het omdat ek nou in die stad werk.

Dis hoekom ek maar so min as moontlik huis toe gaan. Eintlik gaan ek deesdae net huis toe in die geval van ’n sterfgeval – dít is hoe min ek met my familie kontak wil maak.

Ek het my ou oor my bekommernis en my familie vertel en hy het net gelag.

Sy antwoord was dat simpele mense nie in die pad van ons geluk moet staan nie, maar ek weet hoe seer woorde kan maak en ek wil hom nie aan hul giftige tonge blootstel nie.

Maar hy wil hulle ontmoet en sê hulle is familie en dat ons nie ’n lewe sonder hulle kan bou nie. Ek weet darem nie so mooi nie.

Hoe maak ek Antie? Moet ek hom maar vir altyd van my familie weghou? Bang Vir Gif-familie, e-pos

Rassisme bly een van die grootste uitdagings vir die mensdom.

En dié tuin wat dié vieslike verskynsel wêreldwyd aan die lewe hou, is dikwels binne families.

Geen kind kom as ’n rassis die wêreld binne nie. Dit is die grootmense wat die kanker is en die kanker dan aan die kinders expose en hulle daarmee aansteek.

Maar net soos wat daar mense in dié wêreld is wat dink hul velkleur allow hulle om ice cream te “a” en maak hulle verhewe bo ander, so is daar die goeies dwarsoor die kleurgrense van die lewe wat na mense kyk en mense sien vir die wonderlike human beings wat hulle met of sonder blou oë en met of sonder gladde of kroes hare is.

So is jy ook een van daai mense aan wie jou familie se gif nie afgesmeer het nie.

Familie bly egter familie, want nie een van ons wen ’n raffle-kompetisie wat dan bepaal in watter familie jy gebore word nie.

As Antie jy was, sou ek na my boyfriend luister en hom aan die fam gaan voorstel.

Kyk, hopelik is daar nog ’n bietjie ordentlikheid in hulle oor en sal hulle nie sommer hul ware kleure wys nie. Maar hierdeur sal ’n baie belangrike boodskap aan hulle oorgedra word: Dat liefde hom nie deur die kleur van ’n vel laat voorsê nie.

Wie weet, dalk is dit net die katalisator vir jou familie om hul oë finally oop te kry en die verkeerdheid van hul optredes en sienings te laat besef. Die liefde tussen julle kan alles oorkom; selfs verkramptheid sal voor dit moet buig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters