19 dae gelede
My ouers wil nie my outjie aanvaar nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my outjie is nou al amper twee jaar saam.

Ek is baie lief vir hom en hy voel dieselfde oor my, maar my ouers wil hom nie aanvaar nie en tog is hy nie ’n bad outjie nie.

Ek moet elke keer verskonings uitdink sodat hy my kan glo, want my ouers wil nie hê ek en hy moet in ’n verhouding wees nie.

Ek weet nie meer wat om te doen nie. Wat moet ek doen? – Moedelose Girlfriend, Whatsapp

Jy gee dan nou nie eens vir Antie ’n clue van hoe oud jy is nie.

Meisa, as jy al ’n volwasse nooi is, dan het jy meer as die reg om te kies met wie jy wil uitgaan.

Dan sal jou ouers maar net sterk moet wees en jou besluit/keuse moet respekteer.

Dit help egter baie as almal lekker met mekaar oor die weg kom. Het jy al jou ouers gevra wat presies dit is wat hulle teen jou berk het?

Is dit sy wallet? Het hy ’n pittekop? Jy weet mos hoe obsessed sommige mense oor hare kan wees.

Of is daar iets wat hy in die ver­lede aangevang het wat hulle steeds teen hom hou? Dalk het hy sy hande al vir jou gelig?

Jou ouers kan hom nie net sonder enige rede nie likes nie. Iets moes gebeur het. Iets waaroor jy of hulle nie wil praat nie.

Hoe dit ook al sy, dinge kan slegs beter raak as julle om ’n tafel sit en begin om al hierdie dinge wat krap, aan te spreek.

Imagine net julle besluit om eendag te trou en dan weier jou ouers om na jul troue te kom. Jy sal beslis nie so ’n troudag wil hê nie, nè?

So, skraap al jou moed bymekaar en sê vir hierdie outjie van jou om saam met jou hierdie gesprek met jou ouers te hê.

Eerder dit as om mekaar in die geheim te moet sien. Ons weet mos almal watter goeters alles in die geheim kan uitbroei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters