Verlede maand
My ou se eks-girl kom slaap nog naweke oor
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET nou onlangs ’n ou ontmoet, maar sy eks-meisie bly dan nou aanhoudend by sy huis kom.

As ek daar kom, is daar altyd klere van haar. Hy sê sy kom was daar as hulle krag af is.

Mense vertel my sy en hul agt­jarige dogtertjie kom slaap gereeld daar oor.

Hulle is nou vir meer as ’n jaar uitmekaar, maar chat vir ure met mekaar. Dan vertel hy hulle chat oor die kind en dat hy nie sy kind se ma stoot nie.

Wanneer sy dronk is, kom skel sy by sy huis. Hy sê sy skel dan oor die kind se geld.

Een keer toe hy dronk was, het hy vertel hoe lief hulle mekaar het en dat hulle aan hul verhouding werk, maar hy wil my nie uitlos nie en vermaak my dat ek hom moet los.

As ek hom los, dan bel hy my en stuur boodskappe.

Ek bly in U en hy in P, maar hy kan nie wegbly van my af nie.

Hy nooi homself elke keer om te kom kuier, dan vertel hy my hoe lief hy my het.

Ek weet regtig nie meer wat om te dink nie. Misbruik hy my net? Meisie van U

Waar ’n rokie is, is daar gewoonlik ’n vuurtjie – en Antie praat nie nou van die stoom van daai eks-meisie se waswater nie.

En dan slaap sy ook nog oor daar? Is dit dan oor haar duvet by die huis nat is?

Dié man het sy brood alkant gebotter en as ek jy is, kry ek my so gou moontlik uit hierdie verhouding.

Liewe Antie Mona

EK IS nou al ’n jaar met ’n wonderlike man getroud.

Ek geniet so ons huwelik, maar wat my pla, is dat ek elke keer lees van vroue wat in mans se huwelike krap of andersom.

Dink hulle nie aan die seer wat hule veroorsaak in dié mense se huwelik nie? Wil jy nie ook geluk vind met iemand nie?

Dis dan so ’n wonderlike gevoel om getroud te wees en alles met daardie een persoon te deel.

Wag vir die regte persoon. Hy of sy sal op jou pad kom. Geluk­kige Vrou, J

Daar is diegene wat hierdie aarde saam met ons bewandel, maar absoluut skaamteloos is wat ander se huwelike en verhoudings betref.

Vir hulle gaan dit oor die benefits wat hulle uit hierdie getroude man of vrou kan score.

Die slegtes sal altyd saam met ons wees. Al wat ons kan doen, is om nooit ons waaksaamheid te verslap en té gerus te raak in ons verhoudings nie.

Die duiwel slaap nooit nie, so, sonder om paranoid te wees, daar moet maar altyd aandag gegee word aan signs wanneer iets nie lekker is nie.

Liewe Antie Mona

EK IS 50 en hy 35. Ons is al meer as 10 jaar saam.

Hy het my elke keer belieg oor kamp saam met die boys, maar diep binne my het ek net geweet die kamp is ’n hoer-affêre.

Dit kom nou vir jare aan en hy maak my sleg by die ander vrou.

Sy weet van alles wat hier aangaan, maar hy doen my ’n guns om na haar te move.

Ai, net om te dink hy doen dit op ’n lelike manier deur my die vark in die verhaal te maak.

Ek het ál die jare sy k*k opgevreet, maar genoeg is nou genoeg.

Hy het begin om sy hande vir my te lig en raak kwaad as ek nie met hom wil slaap nie.

Hy verdink my dat ek buite mors, maar ek het nog nooit na ’n ander man gekyk nie. Gatvol

Antie het ’n lang WhatsApp-gesprek met jou gehad oor jou situasie.

En soos ek verstaan, bly hy nog onder jou dak omdat hy eers in November na sy squeeze kan trek.

Vrou, die dag toe hy sy hande die eerste keer vir jou gelig het, moes jy hom al uitgeskop het.

Jy is hierdie man se personalised keeper van sy boarding house; een wat hy wil slaan en met wie hy dan nog seks ook wil hê.

Moenie net sê dat jy genoeg gehad het nie: Actions speak louder than words.

Kry hom uit jou huis en uit jou lewe. Jy kan hom en sy papbroekigheid nie tot die einde van die jaar entertain nie.

Dis tyd dat jy hierdie man afsny en aanbeweeg. Sit ook sy gat in die tronk as hy ooit weer net ’n pinkie vir jou lig!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters