Verlede maand
My man wen loshande die prys as die slegste
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

AS DAAR ’n kompetisie moet wees vir die slegste man op aarde, wen myne loshande.

Antie, kom ek verduidelik so: Van die 15 jaar dat ons saam is, het hy seker net 2 jaar gewerk.

Die snaaksste ding is – dis nie vir hom ’n gesukkel om ’n werk te kry nie, maar hy hou eenvoudig nie lank nie.

Dis nie lank nie, dan is daar fout met sy kollegas. Ek weet al as hy ná ’n week begin kla oor die mense met wie hy saamwerk, is die bedanking sterk op pad.

Daar is werke waar hy nie eens bedank nie, maar net eenvoudig wegbly.

My familie het ook al in die verlede vir hom werk gekry, dan drop hy hulle net so.

En verder aan moet ek alleen sukkel om vir ons kinders te sorg. Hy gaan soggens vroeg uit die huis uit soos iemand wat gaan werk, maar dan gaan rook hy dagga saam met ’n ou skoolvriend van hom.

Hierdie vriend werk ook nie en hulle is soos twee mans wat ’n long deel. Die vriend se vrou sukkel net so met haar man.

Daardie vrou het ’n harde lewe en sy word gereeld ook aangerand.

Gelukkig doen my man nie hierdie dinge nie, maar hy maak die lewe baie swaar vir my.

As ek hom sê ek is moeg van so moet sukkel, sê hy die Here sal provide.

Ek het nou die ander dag so kwaad geraak dat ek vir hom gesê het hy lyk al soos die Here.

Toe ons ontmoet het, was hy nie so taai vir werk nie. Ek kan regtig nie dink wat verkeerd geloop het nie, maar wat ek wel weet, is dat ek my nie vir die res van my lewe wil dood werk vir ’n man wat heel simpel is as hy so dik gerook is nie. – Gatvol Vir Daggakop

Daar is baie van ons wat van ons lewe ’n vakansie wou maak, maar ons verantwoordelikhede laat dit nie toe nie.

Om vir ’n gesin – en veral vir kinders – te sorg is nie speletjies nie.

Baie van ons werk nie onder lekker omstandig­hede nie, maar ons moet deurdruk, want die kinders maak staat op ons en daardie debits gaan mos aan die einde van die maand van ons rekening af.

Twee salarisse is beter as een en soveel meer kan bereik en gecover word as daar meer as een inkomste in ’n huishouding is.

Die tyd dat jy alleen vir almal moet sorg, moet nou tot ’n einde kom.

Dis tyd dat hierdie man van jou grootword en vir ’n slag ’n man en ’n pa word, en ook ’n provider moet raak.

As daar wilskrag is om dagga te rook, behoort daar ook wilskrag te wees om ’n werk te kry, dit te behou en vir ’n slag sy vrou en kinders ook happy te maak. Jy sal jou vrou moet staan, plak moet vasmaak en nie meer sy irie gedagtes kom entertain nie.

Liewe Antie Mona

EK HET net twee keer met ’n girl geslaap en nou is sy pregnant.

Maar sy het hóéveel keer met ’n tjommie van my geslaap en niks het gebeur nie.

Hulle het ook nie condoms gebruik nie. Nou hoe verduidelik Antie daai?

Ek suspect dat dié meisie my met ’n slap riem wil vang.

Sy dink omdat my pa-hulle geld het, sal ek beter vir haar kind kan sorg, maar ek kry net die gevoel dat daai nie my kind is nie.

Ek het nog nie my ouers vertel nie, want ek moet eers seker maak van die saak.

Sy is ouer as ek. Ek’s 22 en sy is 29. Ek soek nog werk, Antie, en sal man staan vir my goed, maar dan moet dit mos my kind wees. – Suspicious

Antie kan nie dink dat daar veel respek in die lewe vir ’n 22-jarige kan wees wat meisies op die rug van sy ouers se aardse besittings wil ougat maak, en dan nie mans genoeg is om vir die gevolge van sy dade pa te staan nie.

As jy twyfel, kan jy mos ’n ant­woord met ’n paternity test kry. Maar nou moan jy nes ’n papegaai met ’n nat onnerjokkie oor jou pel wat nie eerste daar vasgegooi het nie.

Daar’s altyd die kans op swangerskap as jy onbeskermde seks het. Om nie eens van die risiko’s van vleeslike siektes te praat nie.

Jy wil spyker, maar dis duidelik jy’t nog nie eens uitgefigure hoe ’n hamer werk nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters